KVB SEKURITEITS STATUS

KVB SEKURITEITS STATUS

BOERLAND OR WASTELAND

BOERLAND OR WASTELAND

KVB NOTIFICATION

Total Pageviews

Monday 5 December 2011

SIMELANE-SIMPTOOM.



Kort na die uitspraak in die appèlhof dat adv Menzi Simelane se aanstelling deur
 pres. Jacob Zuma ongrondwetlik was, het waarnemers daarop gewys dat dit
 maar die jongste geval was waar die regeringshoof en ander regeringslui
 skynbaar hul ore vir halfgebakte regsadvies uitgeleen het. Kommer is oor
 die kwaliteit van die regering se regsadviseurs uitgespreek.
‘n Vroeë geval wat die oë laat rek het was toe die destydse pres. Thabo Mbeki
 se regsadviseur na ‘n blitsige ondersoek bevind het dr. Alan Boesak is
 onskuldig oor sy aanwending van DanChurchaid se fondse. In die daaropvolgende
 regsproses het Boesak die ongewone, vir destyds, gedoen om die appèlhof
 op appèl na die Grondwethof geneem het, en die praktyk geformuleer is om
 wél grondwetlike sake so van die appèlhof op appèl te kon neem. Nogtans
 het Boesak uiteindelik tronkstraf uitgedien.
Die Grondwethof het inderdaad verskeie kere dwars in die regering se optrede
 gestaan. ‘n Vroeë voorbeeld was die uitspraak in 1998 van City Council of Pretoria
 versus Walker, waardeur die regering se praktyk om blankes gemeterde
 tariewe, en swart mense vaste tariewe te laat betaal, in die ban gedoen is.
 Nog ‘n bekende uitspraak was die bekende Modderklip-saak.

Nog ‘n belangrike saak wat die regering weliswaar nie verder gevoer het nie,
 was die Arbeidshof-uitspraak van Tshishonga versus die Minister van
 Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling wat die kop van die minister,
 dr. Penuell Maduna laat rol het. Wat egter meer insiggewend is, is dat dié
 uitspraak ook die direkteur-generaal, Vusi Pikoli se integriteit bevraagteken het.
Baie onlangs het pres. Zuma ook oor ‘n kommissie van ondersoek na die
 wapenskandaal die kort lootjie getrek.

Pikoli het later die Direkteur van Openbare Vervolging geword. Pikoli het in effek
 plek gemaak sodat Simelane in dié amp aangestel kan word. Simelane, soos
 Pikoli, was ook voorheen Direkteur-generaal van Justisie, en het onder meer
 die wenkbroue laat lig toe hy vanuit dié pos Pikoli opdrag gegee het om die
 vervolging van Jackie Selebi te staak.
Die gebeure staan nie in ‘n lugleegte nie. Die regering voer op die oomblik die
 Wetsonwerp op die Beskerming van Staatsinligting deur teen internasionale
 veroordeling in. Vroeër vanjaar het die adjunk-uitvoerende hoof van
 Solidariteit, dr. Dirk Hermann, gewaarsku dat voorgestelde wysigings aan
 die Wet op Gelyke Indiensneming ongrondwetlik sal wees.

Zuma en van die ANC se voorste ringkoppe se reaksie op die teenspoed in die
 howe was verskeie bitter uitsprake oor die howe en selfs die grondwethof wat
 dwars in die pad van demokrasie sou staan. Dié opmerkings het weer die
 grondwetkenners en politieke wetenskaplikes se hare laat regop staan,
 aangesien dit op ‘n totale onbegrip dui van wat ‘n beskaafde demokrasie,
 en veral ‘n grondwetlike demokrasie beteken. Op die oog af lyk dit of Zuma
 se begrip beperk is tot wat in die politieke wetenskap as die diktatuur van
 die meerderheid bekend staan.

Hoewel die jongste saak nog nie afgeloop is nie, dui dit hoe belangrik die rol van
 opposisiepartye, vakbonde en burgerlike instellings soos Afriforum is om die
 grondwetlike demokrasie gesond te hou.
Nie almal is dit eens dat die grondwet die beste moontlike onderhandelde produk
 is nie, en veral dat die beskerming van minderheidsregte nie in ooreenstemming
 met die beste internasionale voorbeelde en die volkereg is nie, maar dit is al wat
 die land nou te ene maal het. Dit moet ten beste benut word. Dit is daarom jamme
r dat daar in die geledere van die minderhede soveel onmin is wanneer juis dit
 gedoen word – soos die kritiek op Afriforum en die TLU-SA omdat hulle
 dieselfde grondwet benut het om Julius Malema se polariserende haatspraak
 in die bek te ruk.