KVB SEKURITEITS STATUS

KVB SEKURITEITS STATUS

BOERLAND OR WASTELAND

BOERLAND OR WASTELAND

KVB NOTIFICATION

Total Pageviews

Follow by Email

Friday, 17 February 2012

ONS KINDERHELDE WORD SOMS VERGEET...


IN die geslagregister van een van die families De Beer in Suid-Afrika verskyn die
 naam van ene Dapper George Stephanus de Beer, wat in 1794 gebore is. Of Dapper 
toe sy voornaam gestand gedoen het, weet ons nie, maar ’n moontlik betreklik nabye
 familielid van hom word vandag steeds gehuldig as een van die heldhaftigste figure
 in die geskiedenis van Suid-Afrika.
Wat haar heldedaad des te aangrypender maak, is dat sy ’n blote melktand-tienertjie 
was toe sy haar eie lewe gegee het—om die lewe te red van haar sesjarige boetie in 
’n snerpend koue winternag in die veld.
Haar naam was Racheltjie de Beer. Dit was 1843, toe die trekkers van die Groot Trek
 nog moes spartel om hul staatkundige ideale te verwesenlik en baie boere steeds nie
 ’n blywende holte vir hul voet kon vind nie en aan die rondtrek was om siel en
 liggaam aanmekaar te hou. Só was die De Beer-gesin op trek uit die Vrystaat na die 
destydse Suidoos-Transvaal op soek na grond.
Een nag staan die gesin toe oor in die veld op ’n welwillende boer se plaas. Die beeste 
is aan die einde van die dag in die takkraal gejaag, maar een kalfie is soek. Die De Beer-
kinders is baie geheg aan hierdie kalfie en noem hom Frikkie. En dit kan nie hoër op
 laer nie, elkeen wat kan, moet na die vermiste Frikkie help soek.
Onder die soekers is ook Racheltjie en haar kleinboet. Waar kan Frikkie tog wees?
 Die kinders dwaal rond, roep waarskynlik keer op keer Frikkie se naam uit, maar hul
 geliefde dierevriendjie is nêrens te vinde nie. Maar in hul jeugdige 
onverantwoordelikheid raak hulle geskei van die ander soekers. Die skemer vou hulle 
toe, sneeu val uit die groue hemel en Racheltjie en haar boetie besef hulle is verdwaal.
Racheltjie is verstandig genoeg om te weet dat hulle aan die loop moet bly, dat hulle
 kan verkluim as hulle nie aanhou beweeg nie. Maar uiteindelik kan hulle nie verder
 voortploeter deur hierdie verskriklike koue kapoknag nie. Hoe nou gemaak?
Racheltjie kry ’n plan. Sy moet ten minste haar boetie van ’n gewisse dood red, al 
moet dit beteken dat sy haar eie lewe vir hom neerlê. Met ’n klip begin sy ’n miershoop
 uithol. Sy trek haar klere uit en trek dit vir haar boetie aan. Klim in die miershoop in, 
sê sy vir die seuntjie. En toe hy dit doen, gaan lê sy voor die holte en beskerm hom
 met haar naakte liggaampie.
Dis hoe die grootmense die kinders die volgende môre gevind het: Racheltjie met haar
 brose lyfie verkluim en leweloos voor die bek van die uitgeholde miershoop in die veld.
 Haar boetie was styf van die koue, maar hy het gelewe.
Maar al was Racheltjie de Beer dood, bly haar gedagtenis langer as ’n eeu en ’n half nog
 lewend en word sy onthou met ’n deernis wat oor alle groeps- en taalgrense heen strek.
 Sy het die hoogste offer gebring. En sy was maar net weerlose meisietjie van twaalf.

----------------------------------------------------------------------------
Dirkie Uys
Die datum is 10 April 1838. Die uur van beslissing het geslaan. Dit was nou of nooit.
 Piet Retief en sy klein kommando is uitgemoor tydens onderhandelinge met Dingaan,
 die koning van die Zoeloes. Moord en verskrikking het hierop gevolg.
Die Voortrekkers was op hul laaste. Dit was nou 'n kwessie van oorleef. Hierdie 
strafekspedisie was meer as net dit. Die een wat verloor sou sy bakens moes versit.
Hendrik Potgieter sou sy mense lei, terwyl Piet Uys sy mense sowel as Gerrit Maritz
 en oorlede Piet Retief se mense sou lei. Sodoende het die kommando in twee verdeel.
Aanvanklik het die geveg in die Voortrekkers se guns geswaai. Die Zoeloes het op 
vlug geslaan en Piet Uys se kommando het hulle agtervolg. Deur die Italeni kom het
hulle die Zoeloes gevolg - reg in 'n lokval in.
Die Voortrekkers moes net uithaal en wys om hulself te verdedig. 'n Assegaai het egter
 vir Piet Uys noodlottig verwond. Hy was besig om te sterf en het sodoende die
 kommando vertraag. Kommandant Uys het hulle beveel om hom te los en te vlug.
Die Trekkers het op vlug geslaan, maar die jonge Dirkie Uys, seun van Kommandant 
Piet Uys, het geweier om sy vader alleen te laat.
Langs sy vader se sy, het hy geveg teen die Zoeloes. Later, toe hulle te naby vir hom
 was om weer sy geweer te herlaai, het hy met die kolf van sy geweer teen hulle baklei. . . . .
Die kommando sou later bekend staan as die Vlugkommando, en het die laagtepunt 
van die Groot Trek beteken. Die heldedood van Dirkie Uys, langs sy vader, sou egter
 na meer as 150 jaar na sy dood, nog steeds in die volksmond bly voortbestaan.
------------------------------------------------------------------------------
Jacobus Johannes Cornelis (Japie) Greyling, is gebore in 1890 op die plaas Smaldeel
 in die distrik Hoopstad, Oranje Vrystaat.
Gedurende die Anglo-Boereoorlog was Japie se vader en 2 ouer broers op kommando 
om teen die Engelse te veg.
Een aande gedurende die oorlog, het sy vader se kommando op die plaas oornag. Die
 Engelse was kort op hulle hakke, en agter hulle bloed aan. Die oggend nadat die
 kommando vertrek het, daag die Engelse dan ook daar op.
Die offisier in bevel, 'n sekere kaptein JEB Sealy, kry dan ook bewyse op die plaas 
dat die kommando daar oornag het. Nadat Sealy bietjie rondgekyk het, sien hy vir 
Japie daar naby staan en besluit om hom te ondervra.
Hoeveel van hulle was daar? Wie was almal daar? Waarheen is hulle op pad? Japie
 het egter geweier om sy vader se kommando te verraai. Sealy was vasbeslote om 
die inligting te bekom, en beveel sy soldate om Japie teen die huis se muur te laat 
staan voor 'n vuurpeleton.
Hy het Japie 'n laaste maal vir die inligting gevra, en beloof om hom te bevry indien hy
 die inligting sou verstrek. Japie het egter nog steeds geweier.
Sealy het sy soldate beveel om aan te korrel te neem. "Gereed!" . . . Stilweg beveel hy 
sy manne toe om te stop. Hy het na Japie gegaan, sy hand geskud en weer met sy
 soldate vertrek.
Baie jare nadat die oorlog reeds lankal verby en byna vergete was, het die Engelse
 offisier steeds vertel van die dapper klein Boertjie wat hy in Suid-Afrika ontmoet het.
------------------------------------------------------------------------------
Wolraad Woltemade
Die verhaal van Wolraad Woltemade is waarskynlik ook die verhaal van ons land se
 eerste heldedaad.
Hierdie gebeurtenis het plaasgevind 120 jaar na die stigting van die verversingstasie
 aan die Kaap. Die Kaap wat toe reeds bekend gestaan het as "Die Kaap van Storms" . . . .
De Jonge Thomas, 'n Oos-Indiese skip, het op Sondag, 30 Mei 1773 in 'n hewige storm 
beland in Tafelbaai. Vir 'n dag en 'n nag het die storm in woede toegeneem, sodat die 
ankertoue later een vir een gebreek het.
Vir die 207 man aan boord was dit asof die einde aangebreek het. Vreesbevange het
 hulle gebid om redding en uitkoms . . . .
Doelloos het die skippie rondgeslinger tussen die verwoede golwe, totdat dit naderhand 
op 'n sandbank vasgespoel het.
Die kaptein en die meeste van die skip se bemanningslede kon niks anders doen as om
 hulpeloos aan die wrak te klou, en om om hulp te roep nie.
Nuuskieriges het saamgedrom en Goewerneur van Plettenberg het onmiddelik 'n dertigtal 
soldate - nie om die matrose te red nie, maar om die skeepswrak te bewaak - gestuur.
 Onder hierdie soldate was dan ook 'n man genaamd Christian Ludwig Woltemade.
Christian Ludwig Woltemade se bejaarde vader van tussen 60 en 70 jaar oud, het dan ook 
vir sy seun kos gebring. Die vader, Wolraad Woltemade het gesien dat niemand eens 'n 
poging aanwend om die bemanningslede te red nie.
So het hy dan met sy moedige perd die see ingeswem om die mense se lewens te red.
 Sewe maal het hy die branders ingery met sy perd, om elke keer 2 mense se lewens te
 red. Die agtste maal het van die matrose histeries geraak, en het almal aan hom en sy
 perd geklou.
Dit was te veel vir die reeds uitgeputte Wolraad. So het hy en sy perd dan ook onder 
die golwe van die Kaapse kus verdwyn. . .
--------------------------------------------------------------------
Hendrik Biebouw
in 1707 het Hendrik Biebouw uitgeroep: “Ek is ʼn Afrikaner,” in opstand teen die
 koloniale regering in die Kaap. Sedert Biebouw se uitroep het die Afrikaners hulle 
rug op Europa gedraai, met hulle gesigte na Afrika.
----------------------------------------------------------------------
Marthinus Oosthuizen
Die jaar was 1838. Piet Retief en sy klein kommando het gaan onderhandel met Dingaan
 oor grond. Piet Retief was vol hoop en verwagting, en het sy mense aangeraai om reg
 te wees om die nuwe land te bewoon.
In afwagting het hulle die uitgesien na die koms van Retief. Retief sou egter nooit 
opdaag nie. Nadat Dingaan die traktaat geteken het wat grond gee aan die Trekkers,
 het sy impi vir Retief en sy manne vermoor. 'n Veldtog van moord en doodslag so
 hierop volg, beginnende met die groepie Trekkers wat hulle staning langs die
 Bloukransrivier gemaak het . . . . .
In die middernagtelike ure, terwyl die Trekkers ruslig slaap, word die bloedige
 aanval genadeloos geloods . . . .
Die van Rensburg en Pretorius gesinne was op 'n koppie, omring deur hordes Zoeloes.
 Bokant die oorlogsrumoer en geraas van die Zoeloes skreeu hulle dat hulle kruit en 
lood klaar is. Om die ammunisie te gaan haal en dan vir hulle te neem kon alleenlik deur
 doodsgevaar gedoen word.
Marthinus Oosthuizen besef hulle gevaar en veg vir hom 'n pad oop deur die Zoeloes
 na die ammunisie toe. Daarna moes hy weereens 'n pad oopveg om die ammunisie op 
die koppie te kry.
Deur sy heldedaad het hy hulle gered van totale uitwissing. . .
------------------------------------------------------------
Jopie Fourie
Josef Johannes (Jopie) Fourie is op 27 Augustus 1878 gebore in die Distrik Pretoria en 
sterf in 1914 voor 'n vuurpeloton. Hy word deur baie as 'n held gesien wat tot die einde
 gestaan het vir dit waarin hy glo.
Tydens die Jameson-inval het die sewentienjarige Jopie, saam met sy oom Japie, onder
 Kommandant Piet Roos gedien. Hulle was dan ook betrokke by die laaste harde 
skermutseling wat gelei het tot die opsteek van die wit vlag (na bewering 'n voorskoot)
 deur dr. Jameson se manne. Jopie word toe deur kommdt. Roos versoek om 'n brief
 op te stel en sommer ook belas om die brief aan die doktor te gaan oorhandig. Kort 
daarna het dr. Jameson oorgegee.
Jopie was 'n verkenner en rapportryer tydens die Tweede Vryheidsoorlog en is 
gewond en gevang tydens 'n skermutseling noord van Pretoria. Na dié oorlog bly
 hy betrokke by die Burgermag en sluit in 1914 aan by die sogenaamde 1914-Rebellie 
teen die toentertydse eerste minister, Louis Botha, se omstrede besluit om Duits-
Suidwes-Afrika binne te val as deel van die oorlogspoging van Brittanje en haar
 bondgenote teen Duitsland.
Jopie Fourie is in die omgewing van Rustenburg gevange geneem op 16 Desember 1914,
 het voor 'n krygshof verskyn en is op 20 Desember tereggestel. Hy is die enigste
 deelnemer aan dié Rebellie wat op hierdie wyse die hoogste prys betaal het.
Die volgende aanhalings kom uit die boek: Jopie Fourie, 'n Lewenskets, deur J.M.De
 Wet, 1940:
"Ek kan nie insien waarom ons jong Afrikaners vir Engeland se eer moet veg nie. 
Wanneer ons die moord van Slagtersnek nagaan... en wanneer ek dink aan die 
30,000 vroue en kinders wat vermoor is, sien ek nie waarom ek Engeland moet
 help om sy eer omhoog te hou nie."
"Ek weet dat die regering my as 'n rebel beskou en in my teleurgesteld is. Ook is
 ek teleurgestel in die regering wat ek gehelp op die been bring het en waarvoor 
ek my bloed opgeoffer het..."
"Wat ek gedoen het, het ek met oop oë en uit eie vrye oortuiging gedoen. Selfs is ek
 tot vandag toe nog oortuig dat God die onreg nie sal gedoë nie..."
"Ek kan nie vals wees nie! Nooit in my lewe het ek dit kon wees nie! En mag God my
 bewaar om nooit 'n valsaard te word nie! My dade het altyd my hart geopenbaar. Ek
 is nie van plan om die hof om genade te vra nie. Die genade van my Skepper wat my 
gelei het, is vir my genoeg..."
"Genade? Is dit nie opmerklik dat ek die seun moes wees wat met die witvlag na
 Jameson ingery het met sy oorgawe? Hy is gevang en vry gelaat, en daarna word
 hy sir Starr Jameson; maar ek moet sterwe, daartoe veroordeel deur my eie mense
 wat twaalf jaar gelede saam met my gestry het vir ons land en volk se vryheid."
"O, ek hoop tog hulle sal my nie in my gesig skiet nie," en terwyl hy sy hand op sy
 bors lê, laat hy hoor: "Hier is 'n groot Afrikanerhart, groot genoeg om al hul koeëls
 te ontvang."
"...so seker as ek u hier voor my sien, is ek oortuig dat die Here met sy dierbare bloed
 vir my sonde versoening gedoen het; en dat Hy nou kom om my by die hand te
 neem en deur die dal der skaduwee des doods weg te lei. Hy is mos hier by ons, 
ons kan Hom voel..."
Met vaste stem begin Josef Gesang 20:8 sing: "Als wy de doodsvallei betreën, 
Laat ons elke aardse vriend alleen..." Aan die end van die tweede versreël klink die 
order - die skote val en kommandant Josef Fourie stort neer.
---------------------------------------------------------
HF Vervoed
Our major task is to ensure that a White nation will prevail here. Every nation has
 the inalienable right to safeguard that which it has built for itself and for posterity. 
This, then, is our task
-----------------------------------------------------------------------
C.J Langenhoven
J.B.M Hertzog
Oom SienerChristiaan Rudolf De WetDe La Rey
-----------------------------------------------------------------------
Frederick (Fritz) Joubert Duquesne
Die Swart Luiperd, The man who killed Kitchener, FBI Most Wanted, Duquesne Spy
 Ring – hierdie is maar net ’n paar terme wat geassosieer word met een van die mees 
opspraakwekkende karakters in die Afrikaner se geskiedenis.
Daar is heelwat verhale oor Fritz Joubert Duquesne (uitgespreek Doe-Kyn) geskryf 
en verskeie van die stories kom nie altyd ooreen nie. Ons het ondersoek ingestel
 om hierdie ongelooflike karakter se lewensverhaal vir u, die leser, bekend te maak.
Frederick (Fritz) Joubert Duquesne was op 21 Desember 1879 te Oos-Londen gebore.
 Sy ouers was welgesteld en hy was familie van genl. Piet Joubert.
Hy het grootgeword in Nylstroom en was op ‘n jong ouderdom na ‘n koshuis in
 Engeland gestuur. Op die ouderdom van 17 was hy by die London University
 ingeskryf en ‘n jaar later het hy na Brussels verhuis waar hy by ‘n militêre 
universiteit studeer het.
Duquesne, nog net ’n seun, het gedurende hierdie tydperk bekend gestaan as die 
beste swaardvegter in die hele Europe en het in drie van die opgetekende gevegte
 sy opponente gedood!
In 1899 keer hy terug na die Z.A.R., net betyds vir die uitbreek van Tweede 
Vryheidsoorlog. Hy word deel van sy oom genl. Piet Joubert se staf en was later
 naby Ladysmith gewond. Hy herstel egter vinnig en neem verder deel aan die oorlog.
By die slag van Colenso word hy deur die Britte gevang maar hy ontsnap op heroïese 
wyse nadat hy talle soldate uitoorlê het en ’n wag in die proses noodlottig gewond
 het. Hy was later weer gevang en weereens ontsnap hy voor die aanvang van die
 kryg verhoor.
Tydens die slag van Bergendal word hy tesame met die Boeremagte oor die grens
 in Mosambiek ingedryf. Die Portuguese neem hom gevangene en stuur hom na ‘n
 tronk Lisbon, Portugal.
Net voor hy gevang was het hy na bewering waens met onskatbare hoeveelheid goud
 iewers in die Laeveld weggesteek sodat die Britte dit nie in beslag kon neem nie. 
Hierdie goud was op pad na Europa om wapens en ammunisie vir die Boeremagte 
aan te koop. Die goud is tot op hede nog nie gevind nie.
In Portugal verlei hy die tronkbewaarder se dogter en sy help hom ontsnap. Hy 
vlug na Parys, Frankryk, en hier sluit hy aan by die Afrikanervereniging. Duquesne
 besluit toe om die Britse magte te infiltreer. Hy sluit in 1901 aan by die Britse weermag 
en word vinnig bevorder as offisier. Spoedig reel hy dat hy terug gestuur word na die
 Z.A.R. op die Britte se onkoste!
Op Transvaal s’ bodem tref hy reëlings dat hy na die Nylstroom-distrik gestuur word. 
Hier het sy haat vir Lord Horatio Kitchener ontstaan vanweë die geskroeide
 aardebeleid en die konsentrasiekampe. Hy vind sy familieplaas verbrand, sy
 suster verkrag en vermoor en sy moeder sterwend in ‘n konsentrasiekamp in Germiston. 
In latere jare erken hy dat hy vir Kitchener persoonlik verantwoordelik gehou het vir die 
ramp wat sy familie getref het asook die 27 000 Afrikanervroue en –kinders wat in die
 Britse helkampe gesterf het.
Dit is nie duidelik hoeveel inligting hy op hierdie stadium aan die Boeremagte gegee
 het nie. As Britse offisier het hy sonder twyfel toegang tot heelwat waardevolle
 inligting gehad. Sy bynaam onder Afrikaners was die “Swart Luiperd” omrede sy 
donker hare en die heldhaftige wyse waarop hy die Britse Intelligensiediens male 
sonder tal ontduik het deur vertroulike inligting suksesvol aan sy Boere-kamerade
 te gee. Die Britte het geweet dat daar ’n Boere-spioen in hul midde was maar hulle
 kon Duquesne nooit vastrek nie.
Steeds in Britse uniform, word hy na Kaapstad verplaas waar hy besluit het om die
 hawe en groot dele van die stad op te blaas. Hy was ‘n man wat mense maklik
 beïnvloed het en kry dit reg om ‘n groep Afrikaners bymekaar te maak vir sy 
beplande sabotasie van Britse militêre teikens in die Moederstad. Sy planne word
 egter ontbloot nadat ‘n vrou van een van sy manskappe die Britte daarop attent
 gemaak het dat hy ’n sabotasie komplot beplan. Die Britte maak toe ‘n aanbod aan
 hom: indien hy die Boere se geheime militêre kodes ontleed sal hulle sy lewe spaar
. Hy ontleed dit maar gee valse inligting vir die vyand.
Daarna was hy na Bermuda gestuur as krygsgevangene. Kort na die Vrede van
 Vereeniging in 1902 ontsnap hy met die hulp van die jong Anna Maria Outerbridge, 
wie hy ook verlei het, na die VSA.
In New York het hy gewerk as ‘n joernalis en omrede hy Russies magtig was, het 
die koerant hom gestuur om verslag te lewer oor die Russies-Japanese oorlog. Fritz
 kon onder andere ook Frans, Duits, Portugees en Hollands vlot praat.
Hy het naam gemaak in die VSA as ‘n grootwildjagter en was ook bevriend met pres.
 Theodore Roosevelt, wie hy gereeld raad gegee oor jag.
Ook het hy hom voorgedoen as ‘n Australiese soldaat, “Captain Claude Stoughton”,
 en het geld verdien deur op reis te gaan en lesings aan te bied oor verskeie oorloë 
waarin hy betrokke was.
Gedurende die Eerste Wêreldoorlog verhuis hy na Brasilië as die wetenskaplike
 “Frederick Fredericks” om rubberbome te bestudeer. Hy het natuurlik geweet dat 
die Britte baie skepe het wat voorraad vanaf Suid-Amerika na Europa vervoer om 
sodoende hul oorlogspoging aan die lewe te hou. Na bewering het hy meer as 20 
Britse skepe vernietig met die gebruik van tydbomme, o.a. HMS Salvador, HMS
 Pembrokeshire, HMS Tennyson en die HMS Vauban.
In 1916 plaas hy ‘n berig in ’n Britse koerant dat “Fritz Duquesne deur die Amasone
 Indiane in Bolivia vermoor was”. Hy vertrek kortliks daarna na Engeland en doen
 hom voor as die Rus “Graaf Boris Zabrefski”. Dit is tot vandag toe nog onduidelik 
hoe Duquesne in aanraking gekom het met die Duitse Intelligensiediens maar hy was 
op hierdie stadium beslis ’n Duitse spioen.
In Londen reël hy dat hy saam met Lord Kitchener aan boord die HMS Hampshire
 reis na Rusland. Op die hoë see gaan hy te werke om vir ‘n Duitse duikboot ’n 
aanvalsein te stuur. Hy verlaat die skip net betyds voor ’n torpedo-aanval die 
HMS Hampshire sink. Duquesne se lewensideaal word verwesenlik: Kitchener
 is dood!
Duquesne ontvang later die Ysterkruis vir dapperheid by Keiser Wilhelm vir die rol
 wat hy gespeel het om van Lord Kitchener ontslae te raak.
Omrede meeste van sy familielede in die Z.A.R. deur die Britte vermoor was het hy
 nooit weer teruggekeer na sy vaderland toe nie. Hy was later in Amerika gevang 
maar het homself voorgegee as ’n verlamde en na twee jaar in ‘n tronk vir gestremdes 
het hy weer ontsnap.
In 1941, tydens die Tweede Wêreldoorlog, het die FBI hom weer vasgetrek nadat
 hy verantwoordelik was vir die grootste spioenasie komplot in die Amerikaanse 
geskiedenis: The Duquesne Spy Ring.
Hy was skuldig bevind van sabotasie op Britse militêre teikens. Hy het homself
 verdedig gedurende die verhoor en sy lewe was gespaar omrede die hof bevind
 het dat al sy teikens slegs teen Britse belange was en dat hy wraak gepleeg het
 teen die Britte se oorlogsmisdade teen die Afrikanervolk tydens die Tweede
 Vryheidsoorlog.
Op die ouderdom van 62 het Fritz nie weer ontsnap nie. Hy was 13 jaar later in die 
tronk oorlede.
Dit gaan die verstand te bowe dat ons nie op skool geleer was van kapt. Fritz Joubert
 Duquesne se merkwaardige lewe nie.
--------------------------------------------------------------------------------
Piet Potlood
As magistraat het ek met kommandodag op Prieska reeds baie mense met die hand 
gegroet toe meteens ‘n klein verskrompelde mannetjie voor my staan.
Hy word voorgestel: “ Mnr. Piet Beukes.” “Mnr. Piet Beukes?” vra ek.
“Ja, burger Piet Beukes, of sal ek sê, Piet Potlood?” “Piet Potlood, my
wêreld man, is dit jy?” Ek draai na die kommandant. “Vriend, ek sal later verder groet, 
nou moet ek eers gesels.” Hy lag.
 “Daarom het ek vir Piet laaste bekendgestel.” Ek druk die mannetjie
in ‘n stoel langs my: ” Warempel kêrel, dis ‘n verrassing! Wat het van jou geword 
nadat jy die tronk opgeblaas het?”
Hierdie Piet was ‘n welgestelde met ‘n gawe familie maar as kind het hy baie swaar
 gekry. Ek onthou hom nog: ‘n jammerlike voëlverskrikker van ‘n kêreltjie, so krom 
en maer soos ‘n verkluimde windhond.
Met die uitbreek van die Engelse Oorlog was hy omtrent 15 jaar oud, met sulke ou 
dun armpies en bene. As jy met wil baklei dan hardloop hy weg. En tog kon hy meer
 optel as die grootste seun en twee groot seuns kon hom nie vashou as hy wou 
wegkom nie. Sy vernaamste kenmerke daardie tyd was oë wat altyd rooi was en ‘n
 neus wat altyd gedrup het. Eintlik was die gedurige gesnuif maar van pure 
senuweeagtigheid. Piet het by ‘n oom gewoon, ou Carel Vlotsma, die dronklap
 van die dorp.
Maar nou moet ek eers ‘n paar woorde oor ons ou dorp Potchefstroom sê, die
 eerste hoofstad van ons ou Republiek.
Dit was ‘n waardige dorp met ‘n goeie landros. Wes-waarts het die pad na
 Klerksdorp se kant toe verby die tronk gegaan, toneel van Piet se kordaatstuk
 toe hy....maar wag ons kom nog daarby. Kort duskant die Noorbrug het daar 
‘n pad die dorp verlaat in die rigting van Ventersdorp. Hierlangs het die
 “burgerregte” gelê, watererwe wat vroeër uitgedeel is aan burgers wat aan
 die kafferoorloë deelgeneem het.
Dit was arm maar goeie mense wat hier gewoon het. Dis hierv waar Piet Potlood
 se vroue-kommando wat die Engelse gestorm het toe .... nou ja, waar hul vandaan
 gekom het.
Ou Carel en Piet het in die een ‘ondergedeelte’ van die dorp gewoon, naby die 
Vlei, ‘n woesteny van water en riet. Hier was ook die Duiwelsgat, ‘n grusame plek
 met water so swart soos ink en so dik soos etjiesop. Geen seun wou ooit binne
 honderd tree van dié plek af kom nie, behalwe..... Piet Potlood.
Dis hier waar Piet die berugte Zulu-spioen Nyati .... Ieder geval, kort voor die oorlog 
het Piet sy eerste werk gekry as aflewerseun by ou Garlick, die winkelier. Hy was nou 
skoon, sy hare was gesny en vir sy drupneus het hy ‘n behoorlike sakdoek gehad.
 Maar alewig was daar, nes die hoofklerk van die winkel, ‘n potloodstompie agter sy oor.
Vandaar sy permanente bynaam ‘Piet Potlood’. Met die uitbreek van die oorlog het Garlick
 se winkel egter gesluit en Piet was weer op straat. Gedurende die eerste maande van 
die oorlog het ons hoera geskree maar toe begin dinge misloop. Eendag was die 
Engelse daar. Die gewapende burgers in die dorp was moedeloos en het ‘n eed 
geneem dat hulle nie weer sou veg nie. Voor die landroskantoor moes hulle
wapen neerlê en kon dan huistoe gaan.
Die hoop geweers is met lampolie aan die brand gesteek. Die houtkolwe het 
natuurlik verbrand maar die lope en slotte was ongedeerd. Weke lank het die hoop
 ou yster daar gelê en stilletjies al minder geword. Die Engelse het ‘n aanval van 
Genl De Wet verwag en was te besig om hieraan aandag te gee. Een môre toe ons 
wakker wordwas die Boere weer daar.
Die meeste burgers sluit dadelik weer aan. Maar waar is die stukkende geweers 
dan nou? Hulle kort tog net ’n kolf om weer te kan skiet.
Lubbe, wat reeds een geweer reggemaak het, sê skielik: “Piet Potlood moet weet. Hy
 het elke dag daar rondgestaan.” Piet word gehaal. “Ja, ek het hulle vir die Boere 
gebêre!” Almal lag. Piet ‘n volks-held?
Maar die geweers is herstel en drie weke later op die plein aan Genl. De Wet oorhandig.
 Hy het ‘n kort toesprakie afgesteek en toe roep hy: “Piet Beukes!” Van agter het Piet 
deurgedruk tot voor die Generaal. “Piet, jy het ‘n knap ding gedoen! Potchefstroom
 behoort trots te wees op sy seun!”
Vir Piet was dit die begin van ‘n nuwe lewe....
-----------------------------------------------------------------------------
Cornelis Broeksma
Nog 'n onbekende held uit ons verlede is Cornelis Boekstra. Gebore op 13 Augustus
 1863 in Assen, Nederland. Hy gaan skool in Holland en immigreer na Suid-Afrika
 gedurende 1882 toe 19 jaar oud. In die Oranje Vrystaat werk hy as 'n klerk in die 
Bloemfonteinse kantoor van die staats prokureur. Hy leer regte en kwalifiseer in 1886.
 Hy verhuis na Dewetsdorp en begin sy eie prakryk. In 1891 trou hy met die sewentien
 jarige Francina Vionel. Hul eerste kind word in 1892 gebore.
In 1895 na die geboorte van hul tweede kond woon hulle in Pretoria, daarna verhuis
 hulle na Johannesburg. Teen hierdie tyd was hy Staats aanklaer. Broeksma was 'n
 Republikein en 'n groot Ghristen wat homself teen die gebruik van drank uitgespreek het.
Gedurende die Anglo Boere Oorlog hoor hy van die konsentrasie kampe en gaan
 besoek die kampe in en om Johannesburg. Hy maak notas van die sterfte syfers 
en stuur dit in kode vorm na koeranta in Londen via Amsterdam, maar dit beland 
in die hande van die Engelse.
Hy word gearresteer en van hoogverraaad aangekla. Kitchener het aangedring dat
 hy in die publiek terreggestel word en Broekstra sterf voor 'n vuurpelleton by die
 Fort in Johannesburg op 30 September 1901. Hy word daar begrawe maar sy graf 
is op Nederlandse versoek opgegrou en hy is in die Braamfonteinse grafplaas begrawe.
---------------------------------------------------------------------------
Die vyf swemmers
Daar het 'n hele paar jaar terug 'n boek verskyn 'Die vyf swemmers' wat gebaseer is op
 'n ware verhaal. Die gaan oor 'n groepie boere soldate wat in generaal de wet se
 kommando was maar deur die engelse gevang is. Hulle is toe op 'n skip geplaas 
oppad Ceylon(vandag Sri Lanka) toe. In die hawe by Ceylon het hulle 'n merkwaardige 
ontsnappingspoging van stapel gestuur. Hulle het van die skip af gespring en na 'n
 russiese skip toe geswem. Op die russiese skip is hulle soos helde ontvang. Met
 russiese en duitse hulp het hulle via europa weer teruggekeer Suid-Afrika toe en 
is deur suid-wes terug Noord-Kaap toe. Daar sluit hulle by generaal Maritz aan en
 veg weer teen die engelse!
Een van hulle is noodlottig gewond in die oorlog, maar die ander vier oorleef almal 
en die hoofkarakter, Willie Styen is meer as veertig jaar later oorlede nadat hy nog
 groot bydraes in Suid-Afrika gemaak het. Merkwaardige storie!
Hierdie is maar net n paar.