KVB SEKURITEITS STATUS

KVB SEKURITEITS STATUS

BOERLAND OR WASTELAND

BOERLAND OR WASTELAND

KVB NOTIFICATION

Total Pageviews

Friday 24 February 2012

N MARTELMOORD, TWEE VAS.



Twee mans is vasgetrek in verband met die gru-moord op 'n bejaarde vrou
 van Dullstroom.

Die een man is in 'n drinkplek gearresteer en hy het glo sy vriend geïmpliseer
 en dié is ook vasgetrek, het die polisie Vrydagoggend gesê.

Die man het na bewering beken dat roof die motief was.

Beeld berig Vrydagoggend me. Johanna (Jo) Moore is in die nag met ’n
 warm strykyster gemartel voordat sy in die vakansiedorpie Dullstroom
 doodgeslaan is.

Die 78-jarige Moore (78) se lyk is gisteroggend in haar huis aangetref
 met erge brandwonde aan die gesig en albei arms.

Volgens forensiese kenners lyk dit of haar aanvallers haar kop met
 dieselfde strykyster vergruis het.

Die motief vir die moord blyk roof te wees aangesien geld blykbaar uit
 die huis weg is.

Moore, ’n Suid-Afrikaanse burger van Noorse afkoms, het die afgelope
 22 jaar in Dullstroom gewoon en jare lank ’n kwekery in die dorp se
 hoofstraat bedryf.

Die laaste paar maande het sy tuis as bloemis gewerk.

Nadat die nuus oor Moore se moord bekend geword het, het talle inwoners
 van Dullstroom by haar huisie, Jan van Riebeeckstraat 303, saamgedrom.

Sy is eergistermiddag laas lewend gesien toe mnr. André Mlwazu, haar
 tuinwerker, daar weg is.

Hy werk al 21 jaar by haar.

Toe hy gisteroggend omstreeks 08:00 by die huis aankom, het hy onraad
 vermoed omdat die tuinhek oopgestaan het.

Hy het om die huis gestap en gesien ’n deur is ook oop. In die kombuis het
 hy bloed op die vloer gesien, asook ’n bos sleutels naby die spensdeur.

Hy het hulp by ’n buurman, mnr. Ockie Burger, gaan soek.

Moore se lyk is in die spens aangetref. Sy het op haar maag in ’n plas bloed
 gelê.

Die strykyster waarmee sy gemartel is, is langs haar gekry.

Die hele huis was omgekrap. Haar leë handsak, waarin daar vermoedelik
 geld was, is ook gekry.

Haar motor het onaangeraak in die motorhuis gestaan.

Moore se enigste familielede woon in Noorweë en Nederland. Hulle is gister
 van die moord verwittig.

Sy het jare lank by ’n prokureursfirma in Dullstroom gewerk voordat sy die
 kwekery ná haar aftrede gekoop het.

“Sy was ’n ystervrou – klein, fyn en tenger, maar absoluut with it!” het
 me. Anita Minnaar, ’n vriendin, oor haar gesê.

“Sy was die dierbaarste mens denkbaar en ons het mekaar goed leer
 ken omdat sy my onderneming se boekhouding gedoen het.”

Me. Welma Strydom, Moore se boesemvriendin, het gister geskok by
 die huis rondgedwaal. Hulle ken mekaar al sedert Moore in Dullstroom
 aangekom het, het sy gesê.

Mnr. Verne Lello, DA-raadslid van die dorp, het gesê die gemeenskap is
 met afgryse vervul.

“Sy was weerloos en het geen mens nog ooit skade aangedoen nie.”



Die lyk van die vermoorde me. Jo Moore word uit haar huis in Dullstroom
 verwyder. Foto’s: Amanda Botha, Beeld-leser


Mnr. André Mlwazu

Gewilde bestemming

Dullstroom, sowat drie uur se ry van Johannesburg en Pretoria en sowat
 halfpad tussen Gauteng en die Krugerwildtuin, is een van die gewildste
 toeristedorpe in die land, veral as naweekwegbreekplek vir Gautengers.

Dullstroom is op www.southafrica.net, amptelike webwerf van SA Toerisme,
 se lys van die tien topdorpe.

Volgens die sensus van 2001 (jongste beskikbare inligting) het die dorp toe
 sowat 600 inwoners gehad.

Volgens die Dullstroom-verblyfkantoor is daar sowat 160 plekke wat verblyf
 in en om die dorp aanbied.

Die dorp staan bekend as die land se kunsvlieghengel-hoofstad. Die meeste
 damme en riviere in die gebied bevat bruin- en reënboogforel.

Benewens hengel is stap, perdry en veldblom- en voëlkykuitstappies gewilde
 tydverdrywe. Daar is etlike spa’s, eetplekke, kunsgalerye en interessante
 winkels. – Marzanne van den Berg