KVB SEKURITEITS STATUS

KVB SEKURITEITS STATUS

BOERLAND OR WASTELAND

BOERLAND OR WASTELAND

KVB NOTIFICATION

Total Pageviews

Friday 6 January 2012

VOOR SKOTE: "NEE, OOM!"


Die man wat landwyd gesoek word weens die groepverkragting van ’n 
vrou en die skietdood van sy stiefseun is blykbaar al voorheen van
 moord aangekla nadat hy ’n vrou doodgeskiet het.

Mnr. Johan Kotze (50) was die balju in Prieska in die Noord-Kaap toe
 me. Bet (Baba) Botha (64) in 1993 geskiet is.

Hy is vrygespreek op aanklag van moord.

Mnr. Johannes Botha het gister gesê hulle sal Kotze nooit vergewe nie.

Hy het die oggend vroeg Botha se broer, William, kom soek weens
 agterstallige skuld.

Die balju het van ’n aangrensende erf op William Botha losgetrek,
 maar sy ma in die maag getref terwyl sy op pad na ’n buitetoilet was.

Me. Botha is in ’n hospitaal in Kimberley dood.

“Kotze het nooit vir die familie gesê hy is jammer nie.”

Botha het gesê die gemeenskap het destyds teen Kotze in opstand 
gekom toe hy een winteroggend ’n bejaarde man uit sy bed geruk en 
agterop ’n bakkie na Douglas geneem het.

Mnr. Sanee Williams, ’n sakeman en gemeenskapsleier in Bonteheuwel, 
het gesê Kotze was glad nie gewild in dié woonbuurt nie.

“Hy was ’n wredige man. Hy was ’n AWB-man. Dis hoe ons hom ken.
 Die bruin gemeenskap het hom gehaat.”

Dit het gister ook aan die lig gekom dat Kotze se stiefseun herhaaldelik
 om sy lewe gepleit het voordat hy Dinsdag in Modimolle (Nylstroom)
 geskiet is.

“Oom, moet my asseblief nie skiet nie,” het mnr. Conrad Bonnette
 (19) blykbaar gesê.

Só het mnr. Rex Bonnette, Conrad se pa, gister vertel.

Die vrou wat glo op bevel van Kotze deur drie tuinwerkers verkrag is, 
het aan Bonnette vertel hoe sy gehoor het Conrad word geskiet.

Kotze het hom na bewering met ’n .22-geweer doodgeskiet nadat hy
 hom gebel en gesê het hy moet na die huis in Kerkstraat kom omdat
 hy “iets met hom wil bespreek”.

Conrad het gesmeek, maar ’n skoot het geklap.

“Toe het Conrad weer gesê: ‘Asseblief, Oom, moenie,’” het sy pa gesê.

Daarna het die vrou ’n tweede skoot gehoor.

“’n Derde skoot is ook afgetrek. En toe was alles stil,” het Bonnette gesê.

Bonnette, wat in Bela-Bela (Warmbad) woon, moes sy seun eergister in 
die staatslykshuis gaan uitken.

“Hy het ’n skoot in sy bors en een skoot agterin sy kop.”

Bonnette het gesê hy is dankbaar dat Conrad se suster, Angelique (16),
 nie saam met hom na die moordhuis toe is nie.

“Kotze het gesê hy sou dieselfde met haar gedoen het.”

Intussen is die reuse-soektog na Kotze landwyd uitgebrei en verskerp.

Hy het in sy wit Toyota Fortuner met die registrasienommer DCS 392 FS
 gevlug.

Brig. Hangwani Mulaudzi, kommunikasiehoof van die polisie in Limpopo,
 het gesê hy is vermoedelik steeds gewapen.

Beeld verneem Kotze het drie paspoorte.

Hy het glo familie in Namibië.

Kotze is glo in die Kimberley-gebied in die Noord-Kaap opgemerk.

“Ons het al die grensposte van hom laat weet. Hy sal nie wegkom nie,”
 het Mulaudzi gesê.

Bel kol. Mabisela Mohale by 082 565 8606 met inligting oor Kotze.