KVB SEKURITEITS STATUS

KVB SEKURITEITS STATUS

BOERLAND OR WASTELAND

BOERLAND OR WASTELAND

KVB NOTIFICATION

Total Pageviews

Thursday 19 January 2012

KOM VEILIG BY DIE HUIS.


Die verkeersowerhede werk tans onverpoosd aan die samestelling van die finale
 ongeluksyfers van die afgelope Kerstyd se padslagting. Daar is skynbaar ‘n
 geringe afname in padsterftes naamlik  1 475 mense in 1 230 noodlottige
 ongelukke.
Altesaam 70 % van hierdie ongelukke was reg van voor, wat daarop dui dat
 minstens sommige nie die gevolg van ongelukkige omstandighede was nie,
 maar wel van roekeloosheid.
Vanjaar is gekenmerk deur ‘n baie streng wetstoepassingsveldtog, wat goed
 deur ‘n mediaveldtog ondersteun is. Onder die planne wat oorweeg word is
 om bestuurders te belet om binne drie jaar na hulle hul rybewyse bekom het,
 enige alkohol toe te laat wanneer hulle agter die stuurwiel inklim. Die
 maksimum spoedperk mag dalk ook na 100 kilometer per uur verlaag word.
‘n Land kan egter die strengste wette hê; as dit nie toegepas word nie sal dit
 steeds nie die padslagting verminder nie. Dit is noodsaaklik dat die leiers ‘n
 voorbeeld stel – nie net ten opsigte van die berugte roekelose hoëspoed
 blouligbrigades wat ander padverbruikers terroriseer nie, maar oor die
 ganse spektrum. Rudy Giuliani se zero-verdraagsaamheid-veldtog na hy
 in 1993 burgemeester van New York geword het word soms beskou as
 die rede vir die afname in dié stad se misdaadkoers. Belangrike beginsels
 is neergelê. Dit omvat die gedagte van kruipende misdaad – as
 sogenaamde kleiner misdade straffeloos bly, word die saadjies van
 kruipende aanvaarding en toleransie van ernstiger misdaad gesaai. Die
 gedagte is om hierdie proses te stuit deur selfs die geringste oortreding as
 ‘n ernstige oortreding te behandel.
Die begrip dat leiers die verkeerde voorbeeld stel en tot algemene
 ongehoorsaamheid teenoor die owerheid lei, staan as anomie bekend. Dit is
 ’n toestand van wetteloosheid voortspruitend uit ’n gebrek aan maatskaplike norme.
 Dit tree in weens die verbrokkeling van die maatskaplike bande tussen mense.
 Dit beskryf ook ’n gevoel van vervreemding voortspruitend uit die gevoel van
 doelloosheid. Dit dui op ’n gebrek aan etiek of etiese kodes. Uit syfers wat die
 Mediese Navorsingsraad uit nadoodse ondersoeke bekom, was 61% van die
 voetgangers wat in ongelukke gesterf het, onder die invloed van tiermelk, en
 59% van die bestuurders.
Dit lyk of padsterftes in Suid-Afrika per 100 000 van die bevolking aan die toeneem
 is. In 2001 het Statistiek Suid-Afrika bereken dat die padsterftesyfer 9,9 per
 100 000 van die bevolking was. In  2006 was dit 11,8, en volgens die jongste
 internasionale syfers wat vir Suid-Afrika gebruik is, was dit onlangs 20,2. Dit maak
 Suid-Afrika se paaie die 72ste gevaarlikste ter wêreld. Australië se koers is 6,8, dié
 van Nederland slegs 4 en Japan 3,8.

Strenger wetstoepassing en meer beperkende wette sal help, maar solank die
 owerhede nie oor die hele morele spektrum die voorbeeld stel nie, sal al die
 pogings om te keer dat nog meer mense die huis deur middel van die koerante
 haal, vergelyk kan word met pogings om die see met ‘n paraffienpompie leeg te pomp.