KVB SEKURITEITS STATUS

KVB SEKURITEITS STATUS

BOERLAND OR WASTELAND

BOERLAND OR WASTELAND

KVB NOTIFICATION

Total Pageviews

Monday 31 October 2011

STORIE OOR PLAASMOORDE WERELDWYD UITGESTUUR.

 
 
 
’n DOKUMENTÊRE rolprent oor plaasmoorde in Suid-Afrika wat begin met die grusame moord op die tweejarige Wilmientjie Potgieter van Lindley en haar gesin, kan eersdaags oor die wêreld heen gesien word.
War of the Flea vertel aan die hand van statistieke hoe baie boere wreed vermoor word en ondersoek die redes vir dié grusame aanvalle. Omstrede kwessies soos grondhervorming, mnr. Julius Malema (ANC-jeugleier) se haatspraakverhoor, die regering wat glo nie genoeg doen om plaasmoorde te bestry nie en die gevolge van die apartheidregering kom in die kollig.
Klem word gelê op Suid-Afrika se gewelddadige agtergrond en samelewing in onderhoude met onder meer mnr. Prince Mashele, hoof van die Sentrum vir Politiek en Navorsing in Pretoria, en dr. Johan Burger, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudies.
Mashele sê ’n ongeskoolde en onopgevoede jong man met ’n gebroke familie wat in ’n ghetto of informele nedersetting grootgeword het en hopeloos is, het ’n groter kans om uiteindelik ’n moordenaar en misdadiger te word.
Hy sê in townships kan gewelddadige mense ontwikkel.
Volgens Burger is Suid-Afrika se moordsyfer vyf of ses keer die internasionale gemiddeld. Altesaam 34,6 moorde word per 100000 mense gepleeg.
Die rolprentvervaardiger Rian van der Walt, wat al onder meer aan dokumentêre natuurprogramme vir die televisiekanale Discovery Channel en Animal Planet gewerk het, sê die rolprent het nie ’n positiewe boodskap nie, maar vertel harde en soms ontstellende feite.
“Ek doen weg met illusies.”
Die rolprent probeer om mense met die nodige inligting toe te rus sodat hulle besluite kan neem om hulself te beskerm, sê Van der Walt.
Een van die plaasaanvalle in Suid-Afrika wat in die rolprent ondersoek word, is die moorde op mnr. Attie en mev. Wilna Potgieter en hul dogtertjie, Wilmientjie, op die plaas Tweefontein naby Lindley.
Emosionele oomblikke word op kamera vasgevang wanneer onderhoude met onder andere mev. Susan Nortjé, suster van mev. Potgieter, en mev. Bokkie van Staden, Wilmien se ouma, gevoer word.
Van der Walt het besluit om die rolprent met die Potgieter-moord te begin omdat dit “die ergste is (van al die plaasmoorde)”.
Hy het op Louis Trichardt in Limpopo grootgeword. “Ek het nie op ’n plaas gewoon nie, maar wel in ’n boeregemeenskap en was altyd bewus van boere wat vermoor word. Ek het vir myself gesê as ek eendag groot is, gaan ek ’n dokumentêr oor plaasmoorde doen.”
Hy onderhandel tans met die SAUK om die rolprent op die kassie uit te saai, maar niks is al afgehandel nie.
Van der Walt skryf dit in vir plaaslike en oorsese rolprentfeeste en wil dit ook in teaters laat draai. Die rolprent is met hoë-definisie-videokameras verfilm en voldoen aan interna­sionale standaarde, sê hy.