KVB SEKURITEITS STATUS

KVB SEKURITEITS STATUS

BOERLAND OR WASTELAND

BOERLAND OR WASTELAND

KVB NOTIFICATION

Total Pageviews

Saturday 15 October 2011

MALEMA TREE AAN.



Die uitgesproke ANC-jeugleier, Julius Malema, se tugverhoor word eerskomende naweek agter geslote deure hervat. Die groot vraag op almal se lippe is seker of die ANC dié keer genoeg murg in sy pype gaan hê om die moeilikheidmaker in sy geledere vas te vat?
‘n Nóg groter vraag is egter of die tugverhoor die voorspel tot aanstaande jaar se leierskonferensie gaan wees? Groot kanonne in die ANC, soos Winnie Madikizela-Mandela en die behuisingsminister Tokyo Sexwale gaan in Malema se guns getuig.

Mev. Mandela ontpop die laaste paar jaar al hoe meer as die skimpresident van die land. Sy daag oral op en gebruik haar invloed om selfs veroordeelde bedrieërs kwytgeskeld te kry. Volgens haar is Malema in sy politieke vormingsjare en hy sal later kalmeer – soos sy voorganger Fikile Mbaluke. Sy is woedend omdat die ANC hom voor stok kry en sê dit is die eerste keer in die geskiedenis wat ‘n jeugleier voor ‘n tugverhoor gedaag word. Skynbaar verstaan sy nie dat Malema se optrede waarin hy haat teen die witman aanblaas en hulle as diewe en grondrowers beskryf, totaal onaanvaarbaar is nie.
 Mense onthou egter steeds beeldmateriaal waarin sy, jare gelede ‘n dosie vuurhoutjies omhoog hou en dreig om die ANC se versugting na politieke vryheid met brandstigting af te dwing en ook hoe sy voor stok gekry is oor die omstandighede waarin die jeugaktivis, Stompie Sepei, aan sy einde gekom het. Ook hoedat sy skuldig bevind is aan korrupsie en bedrog in die jare wat sy president van die ANC-Vroueliga was. Was dit ook in haar vormingsjare wat sy as die adjunkminister van Kuns en Kultuur die trekpas gekry het?

En wat is minister Tokyo Sexwale se ware agenda? In die Mbeki-tydperk is sy naam gekoppel aan ‘n staatsgreep om die oud-president uit die kussings gelig te kry.  Met die ANC se Pietersburg-konferensie het hy sy volle gewig agter mnr. Jacob Zuma ingegooi. Nie lank daarna nie begin dit toe blyk dat hy nie so ‘n Zuma-ondersteuner is as wat hy voorgee nie. Sy houding teenoor blankes het ook algaande koeler geword. Die aanvanklike verdraagsaamheid het uiteindelik omgesit in verwyte soos dat dit plaasboere is wat plakkerskampe skep omdat hulle so baie werkers van hulle grond afsit.
Die behuisingsnood in die land is te veel vir die minister. Dink hy heimlik ook aan nasionalisering as die oplossing daarvoor?

Ontleders sê Malema se tugverhoor gaan beslis die bepalende faktor wees in die aanloop tot die ANC se leierskapskonferensie aanstaande jaar. Hy geniet enorme steun van die werklose jeug en hy maak geen geheim van sy ware gevoelens oor die huidige president nie. Moontlik begin die Mandelas en Sexwales en andere hulle vroegtydig posisioneer om aan die stomp kant van die byl te wees.
Iets is aan die broei en selfs senior ANC-leiers erken teenoor koerante dat hulle onrustig is. Om van Malema ontslae te raak, gaan ‘n waagstuk wees. Om hom te behou, gaan rampspoedig wees. Nie net vir die ANC nie, maar vir die hele land.