KVB SEKURITEITS STATUS

KVB SEKURITEITS STATUS

BOERLAND OR WASTELAND

BOERLAND OR WASTELAND

KVB NOTIFICATION

Total Pageviews

Saturday 1 October 2011

VERDAGTE VLIEGTUIE BY GRENS GEWAAR.



LADYBRAND. – Lede van die weermag aan die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho het onbekende vliegtuie gesien wat vermoedelik by georganiseerde misdaad betrokke is.
Onwettige immigrante wat vermoedelik deur mensehandelsindikate geteiken is, is ook deur soldate vasgetrek.
Volksblad het gister die weermagbasis by Ladybrand in die Oos-Vrystaat besoek.
Soldate van 1 Suid-Afrikaanse Tenkregiment in Bloemfontein, wat die afgelope ses maande op die Lesotho-grens ontplooi was, het huis toe vertrek. Hulle word nou deur lede van 1 Spesiale Diensbataljon, ook van Tempe, vervang, wat die volgende halfjaar hier sal diens doen.
Kol. Matanzima Mantshiyane, staf-offisier: operasies van die gesamentlike taktiese hoofkwartier in die Vrystaat (wat onder meer vir grensoperasies verantwoordelik is), sê sedert April het weermaglede vliegtuie opgemerk wat van Suid-Afrika se kant na Lesotho gevlieg het. Die passasiers en vlieëniers van die vliegtuie kan by georganiseerde misdaad betrokke wees, sê Mantshiyane.
Die lede wat gister by die basis aangekom het, is volgens hom opgelei om verdagte vliegtuie te identifiseer en op te spoor.
Altesaam 458 onwetige immigrante is vasgetrek. Van hulle is jong vroue wat in taxi’s van die buurland na Suid-Afrika gebring is. Mantshiyane meen die vroue is moontlik onder valse voorwendsels die land ingebring om as prostitute te werk. Die bewering kon egter nie bewys word nie.
Danksy die weermaglede wat aan die grens ontplooi is, is 21 boetes uitgereik aan mense wat onder meer met gesteelde items betrap is. Altesaam 126 mense is weens verkeersoortredings beboet. Sewe gesteelde voertuie wat mense oor die grens wou bring en 106 gesteelde skape, beeste en bokke is teruggekry. Die lede het ook op ’n geslypte diamant van Lesotho beslag gelê.
Die weermag meen misdaad het afgeneem sedert sy lede op die grens ontplooi is.
Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Vrystaat-Landbou (VL) se wet- en ordekomitee, sê dié suksesse kan nie teen ander gemeet word nie, want dit is die eerste groep van die weermag wat op die grens ontplooi is.
Breytenbach sê VL verwelkom die weermag se betrokkenheid by landelike beveiliging en die VL het ’n “uitstekende” verhouding met hulle.
Die weermag het egter volgens hom nie genoeg mannekrag op die grens nie. Tans word 165 lede op ’n slag op die grens ontplooi.
Breytenbach sê volgende jaar April sal ’n bykomende 165 (altesaam 330) ook aan die grens ontplooi word, maar meer hulpbronne sal aan die soldate beskikbaar gestel moet word.
Die pad langs die grens, wat in ’n baie swak toestand is en vir patrollies gebruik moet word, is ’n ander probleem, sê Mantshiyane.
Volgens hom moet hulle opnuut aandag skenk aan die bekamping van misdade soos die grensheining wat op plekke geknip word om gesteelde voertuie oor die grens te bring en onwettige weiding.
Lt.kol. Sam Mabotja, waarnemende bevelvoerder van die gesamentlike taktiese hoofkwartier in die Vrystaat, het die landbougemeenskap en inwoners van dorpe bedank wat die weermag dikwels van inligting voorsien.