KVB SEKURITEITS STATUS

KVB SEKURITEITS STATUS

BOERLAND OR WASTELAND

BOERLAND OR WASTELAND

KVB NOTIFICATION

Total Pageviews

Sunday 25 September 2011

DIE REG OM TE WEET.




Een van die hoekstene van demokrasie is dat dit, benewens die reg om vir leiers te stem, ook vryhede moet bring.

Vryhede, so het dit gou geblyk, kan nie onbeperk wees nie omdat die een se onbeperkte vryheid inbreuk sou maak op ‘n ander se onbeperkte vryhede. Bewegingsvryheid, soos in die oorgangsgrondwet bewoord, sou in sy onbeperkte uitleg kon beteken dat ‘n persoon wat tot tronkstraf gevonnis is, na hartelus kon gaan waar hy wou. Enigeen sou kortpad deur ‘n ander se erf en selfs huis kon neem om by sy eie huis te kom.

Verskillende politieke filosofieë plaas ook verskillende regte in verskillende volgordes. Uit die liberale dampkring is die fokus sterk op individuele regte soos die reg op uitdrukking, terwyl die Christen-demokrasie individuele regte meer aan ‘n opgevoede begrip daaromheen koppel, en ook klem op groepregte soos minderheidsregte en die regte van klein inheemse groepe plaas. In Europa kan ‘n land nie lid van die EU word solank as wat minderhede, soos die Baske, nie selfbeskikkingsregte het nie. Turkye kon weens sy hantering van die Koerdiese kwessie nog nie ‘n lidland word nie.

Vroeër het die ANC aangekondig dat dit die omstrede inligtingswet eers vir verdere konsultasie onttrek. Bykans elke rede wat nou vir die voorlopige onttrekking van die inligtingswetsontwerp gegee word, het ‘n jaar gelede ook bestaan. Toe het Verslaggewers sonder Grense die ANC oor drie sake gestriem - Julius Malema se optrede teenoor ‘n BBC-joernalis, die ANC se planne met ‘n mediatribunaal, en hierdie wetsontwerp. Kort hierna het Suid-Afrika se posisie op Verslaggewers sonder Grense se persvryheidsindeks met vyf plekke gedaal, tot die 38ste posisie. Verskeie Afrikalande beklee beter posisies as Suid-Afrika op die indeks, waaronder Namibië op die 21ste posisie – ‘n plek wat Suid-Afrika nog ‘n paar jaar gelede beklee het. Ook Freedom House het Suid-Afrika verlede jaar tot ‘n slegs gedeeltelike persvrye land verklaar.

Vlerkslepery by die wêreld se persvryheidsmuishondlande soos Venezuela, Kuba, Zimbabwe en Ghaddafi se Libië het op die beginsel van dat iemand aan sy vriende geken word, Suid-Afrika ook geen guns gedoen nie.

Daar is byna altyd ‘n regstreekse verband tussen ‘n land se posisie op die persvryheidsindeks en korrupsie-persepsie-indeks, en dit vind weer neerslag op beleggersvertroue-indekse. Kortom, Julius Malema en die ANC se uitgesproke voornemens het ‘n regstreekse invloed op die werkloosheidskoers.

Die koppigheid om met die inligtingswet deur te druk, selfs onder kritiek van Cosatu – ‘n alliansievennoot – is gegewe die huidige ekonomiese klimaat nie wys nie. Dieselfde geld die ANC se reaksie op die Malema-haatspraakverhoor – om ‘n standpunt te verdedig wat polarisasie in die hand werk en beleggersvertroue, en dus die skep van werksgeleenthede in die produktiewe sektor, verder ondermyn.

Uiteindelik moet die openbaarmaking van geheime inligting voor openbare belang swig. Dit spreek die hart van demokrasie aan, waar ‘n regerende party in algemene belang, en nie net die belang van sy ondersteuners regeer nie.

Suid-Afrika het oor meer as ‘n dekade reeds enorme skade gelei omdat die omstrede wapentransaksie nie tot op die been oopgevlek word nie. Van die negatiewe gevolge is selfs moontlik op ‘n oorskatting van die omvang van die korrupsie wat plaasgevind het geskoei, eerder as die werklike omvang.