KVB SEKURITEITS STATUS

KVB SEKURITEITS STATUS

BOERLAND OR WASTELAND

BOERLAND OR WASTELAND

KVB NOTIFICATION

Total Pageviews

Tuesday 8 November 2011

TYD VIR JUDAS-KUS EN DERTIG SILWERSTUKKE.



Die ANC staan nog ’n hele entjie van sy eie politieke Getsemane, ook genoem die Tuin van Verraad. Maar by die voorposte word sopnat Judas-soene al op die wang geplant – al is dit nog ’n stywe draffie van so 13?maande na Mangaung in Bloemfontein.

Hoe nader die ANC aan sy Tuin van Verraad – Mangaung – kom, kan ’n mens nogal taamlik seker wees dat meer as 30 silwerstukke ook deel van die politieke buskruit gaan wees.

Ons is mos nou al immers gewoond daaraan dat daar manne is met platinum-kredietkaarte wat vir honderde afgevaardigdes eerder van die kolonel se hoender koop, terwyl die res maar die asvaal kerrie’tjie en die bruin broodjie in die wit polistireen-bakkie moet verteer.

Hoekom sal ek nou ’n warm blikkie koeldrank drink as ek ’n yskoue kasteel of Johnny Walker Black met ys kan kry?

Dit is in Mangaung waar die ANC-krygers sal besluit wie die hoof-indoena gaan wees wat die party vir die volgende vier jaar gaan lei. 


Jacob Zuma se assegaai is vlymskerp geslyp en lê reeds waterpas in sy regterhand terwyl sy knopkierie kiertsregop in sy linkerhand staan.

En daai assegaai en knopkierie gaan hy nie terugtrek nie. Nie vir die een wat durf probeer om hom in ’n politieke hinderlaag te lei nie. Hy gaan vir die kop mik. Soos hy met Thabo Mbeki gedoen het. Hoor my lied. Zuma gaan dan wéér praat van ’n dooie slang soos toe hy Mbeki in Polokwane verbrysel het.

Maar een ding is seker: die bloed gaan vloei. En as ek die dolos-gooiers kan glo, gaan dit beslis nie Zuma se bloed wees nie.

My voorspelling is Zuma gaan byna heeltemal ongeskonde van die slagveld afstap. Dalk ’n swelsel teen die kop. Maar niks meer nie.



Ja, die Zuma-assegaai is skerp. Kyk net hoe netjies het hy die klippe uit sy skoene geskud wat sy liddoring moeilikheid gegee het.

Gwen Mahlangu-Nkabinde en daardie regeringsverkwister, Sicelo Shiceka, wat gemaak het asof Suid-Afrika se staatskas sy persoonlike bankier was, is netjies uit gemaneuver.

Ook die ANC se Piet-Skiet, Bheki Cele, het nie die argwaan van Zuma ontsnap nie. Wel tydelik geskors, maar as jy nou regtig van ’n outydse cowboy-moewie hou waar die held eers lood deur albei die skobbejak se bene jaag en dan sy rug draai en wegstap, moet jy dié storie dophou. Wat daarna gebeur, is dat die gewonde slymbol na sy pistool gryp wat nooit te ver van sy hand is nie, maar net sodra hy sy hand oplig om die held in die rug te skiet, draai die cowboy om en skiet hom tussen die oë.



Dis nou wat met genl. Cele gebeur. Zuma wag net dat hy sy move maak, dan plant hy Cele se politieke doodskoot.
By die herlees van F.A. Venter se Bedoelde Land skets hy hoe die trekkerboer Rudolf Dreyer sy nuutgevonde vryheid moet prysgee. Dit kon netsowel ’n hedendaagse politieke roman gewees het as ’n mens kyk wat vandag binne die ANC-maag aan’t rommel is.

Om F.A. Venter te parafraseer: Vandag is anders as die dag toe Suid-Afrika op sy Groot Trek na die nuwe Suid-Afrika was. Toe het ons die land voor ons sien lê in sy mistige skoonheid. Maar vandag is die land toe onder die reën. Niks is sigbaar nie. Al wat daar is, is herinnering, ’n pyn en ’n verlange na ’n Nelson Mandela.

Ek kry die gevoel asof ons almal ’n onrustige weemoed het, ’n tamheid in die liggaam en gees wat ons in hierdie oomblik vasknel.

Soos Dreyer dan ook helaas uitroep, so roep baie van ons seker ook uit: “Die bedoelde land?.?.?. maar nou die verlore land!”

En net soos Dreyer kyk ons ook dan met stil oë na die reën en die mistigheid wat die land bedek en ons soek na die bakens wat ons voorheen geïnspireer het, maar die reën bedek alles.

Maar die son sal wel weer deurbreek. Ons kan hierdie geknelde land van ons omdraai deur in die toekoms nee dankie te sê vir kornuite soos Julius Malema en die ANC in die toekoms by die stembus straf.

Laat die ANC-kohorte dus mekaar maar louter tot net die pit van die ANC-kers oor is. Dit kan mos net goed wees vir ons demokrasie.

En dan sal ons hopelik weer eendag kan uitroep: “Ons is terug in die Bedoelde Land.”

Iewers moet die wind tog draai.