KVB SEKURITEITS STATUS

KVB SEKURITEITS STATUS

BOERLAND OR WASTELAND

BOERLAND OR WASTELAND

KVB NOTIFICATION

Total Pageviews

Follow by Email

Thursday, 3 November 2011

EKONOMIESE LAPWERK.



Hoewel Suid-Afrika se amptelike en nie-amptelike werkloosheidskoers besonder hoog is, is die werkloosheidsprobleem nie uniek aan dié land nie. Die Europese statistiekdiens, Eurostat, het pas syfers bekend gemaak waaruit dit blyk dat die Eurosone se werkloosheidskoers sedert die middel van verlede jaar nie onder tien persent kon daal nie. In September vanjaar was daar meer as 16 miljoen mense in die sone werkloos, 188 000 meer as die vorige maand. Die hoogste werkloosheidskoers kom in Spanje voor met byna 23 persent, terwyl Nederland en Oostenryk die laagste werkloosheidskoerse beleef, 4,5 % en 3,9 % respektiewelik. Vir die hele Europese Unie is die koers net effens beter.

Ook in die VSA bly die werkloosheidskoers 'n netelige kwessie, en het die sogenaamde "blaming game" in die aanloop tot volgende jaar se presidentsverkiesing begin. Pres. Barack Obama dreig om al hoe meer stappe op sy eie, en sonder die kongres te doen weens die Republikeine se weerstand. Die Republikeine wys egter daarop dat die Huis van Verteenwoordigers reeds 15 wetsontwerpe aanvaar het wat werkloosheid deur veral die stimulering van middelgrootte ondernemings moet aanpreek, maar dat dit in die Demokraties-beheerde Senaat so op die lange baan geskuif word dat dit al as die "vergete 15" bekend staan. Die breë denke oor die aanspreek van die Amerikaanse werkloosheid herinner aan die denke hier te lande: aan die een kant 'n groep wat die ekonomie wil laat vlot deur die beperking van staatsuitgawes, veral op luukshede wat tot 'n uitvloei van valuta lei, en dan maatreëls wil instel wat die privaatsektor wil stimuleer, veral klein- en middelslag ondernemings waar die koste vir die skep van werksgeleenthede per kop die kleinste is. Die ander groep se benadering kom basies daarop neer dat dit handel oor die neem van hulle wat het, en gee aan hulle wat nie het nie. Die kruheidsvlakke tussen die VSA en Suid-Afrika verskil egter. Obama is aan die voorpunt van denke wat ook in Europa posgevat het, om die rykes nog swaarder te belas. Sy gedagtes staan nie in 'n lugleegte nie. Oor die laaste 30 jaar het die top een persent verdieners in die VSA se inkomste met 274 % toegeneem, die middelinkomstegroep se inkomste het met 40% toegeneem en die laagste inkomstegroep, met net 18 %.

Hier te lande het die ANC-jeugliga 'n optog vir ekonomiese bevryding gehou. Die leier, Julius Malema, teer eenvoudig op die verskynsel wat politieke sosioloë die ingeboude revolusionêre klimaat van relatiewe deprivasie noem. Dit meet die verskille in vlakke van verwagtinge en die werklikheid, en Suid-Afrika se inkomstegaping is die hoogste meetbare ter wêreld. In hierdie klimaat gedy uitsprake soos die grondgryp-praatjies, en nasionalisering. Dit skep 'n bose kringloop met beleggers wat afgeskrik word, en werkloosheid wat verder groei. Die regering moes lankal besef het: dis nie 'n geval van Malema én ekonomiese herstel nie, maar van Malema óf ekonomiese herstel.