KVB SEKURITEITS STATUS

KVB SEKURITEITS STATUS

BOERLAND OR WASTELAND

BOERLAND OR WASTELAND

KVB NOTIFICATION

Total Pageviews

Sunday 13 November 2011

MEISIES KRUIP WEG TOE ROWERS MET GESIN STOEI.



Al wat twee hoërskoolmeisies gehoor het terwyl hulle onder ’n bed
 weggekruip het, was ’n geskreeu en gestoei, breekware en glas 
wat breek en skote.


Wat Deleni Walters en Simoné Wolmarans (albei 17) gehoor het, was drie rowers
 wat onderskeidelik Deleni se ouma op die grond neergegooi het, met haar pa
 gestoei het en haar oupa geskiet het.


Kol. Joks van der Merwe (71), ’n afgetrede polisie-offisier, is in die hoësorgeenheid
 van ’n Pretoriase hospitaal nadat hy in die maag geskiet en die koeël deur sy
 been is.


Mnr. Braam Walters het kort ná die huisrooftog eergisteroggend in Florauna in 
die noorde van Pretoria gehelp om sy skoonpa se aanvallers te vang.


Een van dié mans, wie se ma ’n tolk by die Pretoriase landdroshof is, het aan
 die polisie erken hy is ’n satanis, het konst. Maanda Singo, polisiewoordvoerder,
 gesê.


Mev. Elsje van der Merwe (69) was eergisteroggend omstreeks 02:00 besig om
 koek vir ’n oggendtee te bak. In ’n stadium het sy omgedraai en twee mans in
 die kombuisingang sien staan.


“Ek het vir hulle gesê: ‘Ja?’ Toe rig hy die rewolwer op my,” het mev. Van der
 Merwe gesê.


“Hy het gesê as ek nie skree nie en alles doen wat hulle sê, sal hulle my nie 
seermaak nie. Ek het begin skree. Hy het my hande vasgegryp, my vloer toe
 gestamp en bo-op my gaan lê.”


Intussen het kol. Van der Merwe, Walters, Deleni en Simoné van mev. Van der
 Merwe se geskree wakker geword. Die meisies het onder hul bed weggekruip,
 soos Walters Deleni geleer het. Walters het kombuis toe gehardloop en die
 man gegryp wat bo-op sy skoonma was.


Hulle het begin stoei en breekware en glase in die proses rondgegooi. Dié man
 het sy makker geroep om hom te help wat toe ’n skoot in Walters se rigting 
afgevuur het. Walters het by die voordeur uitgehardloop.


Kol. Van der Merwe het in die gang in ’n derde man vasgeloop.


Dié man het twee skootrekenaarsakke in sy hande gehad.


Kol. Van der Merwe het met die man begin stoei.  Dié man het sy makker 
geroep, wat kol. Van der Merwe geskiet het. Al drie is toe by die deur uit en 
oor die heining.


Die polisie het ’n soektog na die aanvallers begin. Hulle het inligting
 ontvang wat hulle omstreeks 05:30 na die Wonderboom-taxistaanplek 
gelei het.


Walters, wat saam met ’n polisievriend gery het, het drie mans opgemerk
 wat by ’n taxi gestaan het.


“Ons het in die pad gestaan en hulle dopgehou. Toe al drie in die taxi is,
 het my vriend uitgespring, die vuurwapen by die taxi ingedruk en hulle
 gearresteer.”


Die mans, in hul twintigs, sal na verwagting vandag in die landdroshof 
in Pretoria-Noord verskyn. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat 
hulle by ander rooftogte in die noorde van Pretoria betrokke was.