KVB SEKURITEITS STATUS

KVB SEKURITEITS STATUS

BOERLAND OR WASTELAND

BOERLAND OR WASTELAND

KVB NOTIFICATION

Total Pageviews

Sunday 13 November 2011

FW BETREK BY WAPENSKANDAAL.






Oudpres. FW de Klerk word in ’n opspraakwekkende nuwe boek regstreeks
 by die wapenskandaal betrek.


The Devil in the Detail: How the Arms Deal Changed Everything is die
 afgelope week bekend gestel.


Dit suggereer een van die bieërs in die vloot se korvet-kontrak van
 R6 miljard het De Klerk destyds “voorgesê”.


Saam met De Klerk kom oudpres. Thabo Mbeki en mnr. Chippy Shaik,
 ’n sentrale figuur in die wapenskandaal, ook in die soeklig.


Die onthullings oor De Klerk word verklik in ’n onderhoud wat
 ondersoekers destyds met die nou afgetrede vlootadmiraal Anthony
 (Chubby) Howell gevoer het in die hersiening van die wapentransaksie.


Howell verklap in dié onderhoud hy en ander militêre offisiere het in
 1995 die Spaanse bod aanbeveel.


Hulle het ook voorleggings aan oudpres. Nelson Mandela en De Klerk,
 toe adjunkpresident, gedoen.


“Uit die vrae wat mnr. De Klerk ons gevra het, was dit duidelik dat 
een van die mede-bieërs by hom uitgekom het, want hy het gesê: 
‘Hoekom gaan julle ’n Spaanse skip met minderwaardige staal bou?’”


Dit was duidelik een van die bieërs het De Klerk voorgesê om nie die
 Spaanse bod te aanvaar nie, het Howell luidens die onderhoud gesê.


Die boek lui verder: “… die Duitse owerhede het ’n betaling ondersoek 
van $22 miljoen (van die Duitse konsortium) aan ’n Libiese 
frontmaatskappy, Mallar Inc., en dat dié geld regstreeks na
 Suid-Afrikaanse amptenare en kabinetslede gevloei het …
 Die man agter Mallar Inc. was na bewering ’n mnr. Tony Georgiades.”


Die boek gaan verder: “Georgiades het glo sy noue bande met die
 apartheidsregering gebruik om ’n netwerk te vestig om die
 oliesanksies teen die apartheidsregime te verbreek.


“Sy noue band met oudpres. FW de Klerk is alombekend.


“De Klerk het in die vroeë 1990’s, ten aanskoue van die media,
 verlief geraak op Georgiades se vrou (Elita) en is later met haar
 getroud,” lui die boek.


Paul Holden, medeskrywer van die boek, sê hul inligting kom uit
 talle dokumente waarop hulle in hul navorsing afgekom het.


Die boek kom enkele weke ná pres. Jacob Zuma se nuwe kommissie
 van ondersoek na die wapen­skandaal.


Mnr. Dave Steward, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting,
 het toe die kommissie aangekondig is dit verwelkom “omdat die
 wapentransaksie ’n etterende sweer is wat ons politiek vir te lank
 vergiftig het”.


De Klerk het Vrydag deur Steward aan Rapport ontken hy was by 
die wapenskandaal betrokke en sê die insinuasies is ongegrond.


De Klerk was glo net deur mediaberigte bewus van Georgiades se
 rol in die wapentransaksie.


“Die gebeure waarna die boek verwys, was toe hy (De Klerk) en
 Elita al besluit het om mekaar nie te sien nie. In dié tyd was daar
 geen persoonlike verhoudings tussen hom en die Georgiadese nie,”
 sê Steward.


De Klerk ontken hy was by Georgiades se wapentransaksie-handelinge
 betrokke. Die proses om nuwe korvette aan te skaf was glo al
 gevorderd toe hy president was.


“Die resultaat van ’n oop en deursigtige tenderproses was dat die 
destydse regering ten gunste van ’n Spaanse tender was omdat dit 
die kostedoeltreffendste was.


“Toe De Klerk as adjunkpresident agterkom daar is ’n nuwe besluit
 om die tender aan die Duitsers toe te ken, was hy natuurlik agterdogtig
 en sou deurdringende vrae aan alle betrokkenes gevra het,” sê Steward.


Howell het Donderdag aan Rapport gesê “dit was (destyds) algemeen 
dat bieërs mekaar wou vuilsmeer en dat een dalk by hom (De Klerk)
 uitgekom het. Ons het hom egter oorreed om die Spaanse aanbod te 
steun. Hy het nie bevooroordeeld gelyk nie.”


Die kontrak het uiteindelik aan die Duitsers gegaan.