KVB SEKURITEITS STATUS

KVB SEKURITEITS STATUS

BOERLAND OR WASTELAND

BOERLAND OR WASTELAND

KVB NOTIFICATION

Total Pageviews

Wednesday 24 August 2011

GAAN GELD ONS IN BEWEGING KRY?



Toe die De Klerk-bewind die regering aan die ANC en sy kommunistiese leiers oorgedra het, was daar in volksgeledere sterk weerstand daarteen, en gerugte dat dit ten alle koste gekeer sou word, ongeag die koste en gevolge daarvan, is gehoor. Niks het gebeur nie en die ANC het alles wat ons land tot daardie tyd opgebou het met ons geld en harde werk, netso op ‘n skinkbord gekry, sonder weerstand.

Die tyd daarna is gekenmerk deur verslaenheid en ons mense was in wese verpletter. Skuldiges wat die verraad en oorgawe bewerkstelling het, is in volksgeledere gesoek, maar dit kon geen bydrae lewer om ons verlore vryheid weer terug te kry nie.

Sedertdien dobber ons tot ‘n groot mate rond, planloos en selfs koersloos. Verskillende mense en instansies doen elk hulle eie ding, hoofsaaklik daarop gemik om ons lewe vir die onmiddellike te verbeter.

Telkens as iets gebeur het die hoop opgevlam dat ons mense sal ontwaak, die streep sal trek en nie sal toelaat dat dit of dat gebeur nie. Daar is gesê dat as aan ons skole gevat word, ons mense dit nie sal aanvaar nie. Wel, die mense het dit grootliks aanvaar, en die alternatief, die CVO-skole, kry nie die ondersteuning wat dit verdien en wat gehoop is dit sou kry toe ons skole oorspoel is met vreemde leerlinge en vreemde leerplanne nie. Ons het gereken daar gaan groot moeilikheid kom as ons mediese dienste verval en ons nie meer ons eens hoogstaande hospitale sal kan besoek nie. Nou sit ons verarmde mense ook maar daar in die haglike toue en wag om deur Kubaanse dokters behandel te word. As die boere se grond gevat word, gaan die vet in die vuur wees, het baie gedink. Toe gaan ‘n klompie boere en bied hulle grond aan die staat aan en selfs die onbillike grondhervorming en grondeise kon die streep nie getrek kry nie. Ons volksafgod, sport, is getransformeer, die krieketspelers is hulle Springbokstatus ontneem en politieke korrektheid het die nasionale rugbyspan met ‘n ondergemiddelde afrigter gelaat. Maar die stadions sit steeds vol en ons dra selfs ywerig by tot politiekery en kwotas in sport.

Ons plekname is verander met plek-plek bietjie weerstand, en dis slegs ‘n handjievol bittereinders wat ‘n verbete taalstyd voer om te verhinder dat Afrikaans oral moet plek maak vir die taal van die onderdrukkende imperialis.

Gaan daar ooit iets gebeur wat ons mense tot beweging vir vryheid sal motiveer? Die VVK-proses is aan die gang om ‘n volksraad verkies te kry, maar mens sou meer geesdrif daarvoor verwag het.

Wat gaan ons tot aksie dwing? Gaan dit dalk die ekonomie wees? Die wat genoeg kundigheid en geldelike ondersteuning gehad het, is reeds uit die land. Die wat agterbly, word geleidelik verarm. Tolhekke is reeds opgerig en wag om in werking te tree om ons beursies te help leeg maak. Ons belastings is reeds van die hoogste in die wêreld, terwyl die diens daarvoor vir ons mense van die laagste in die wêreld is, want die sosialistiese staat is selektief sosialisties ten gunste van swartes. Desmond Tutu se voorgestelde witmansbelasting, wat nou sogenaamd welvaartsbelasting genoem word, is nog ‘n dreigement van verarming van ons mense. Die opkomende leiers van die ANC praat van grondonteiening sonder vergoeding en nasionalisering.

Die beginsel van welvaartsbelasting is op sigself natuurlik belaglik. Ryk mense met ‘n hoër inkomste betaal reeds welvaartbelasting, want hoe hoër jou inkomste, hoe hoër jou belasting.

Gaan die dreigende tekort in ons beursies ons mense motiveer om op te staan en vryheid te eis? Dikwels hoor mens die argument dat ons eers alles moet verloor. Dit is ook nie korrek nie. Gaan kyk na die mense in die blanke plakkerskampe wat reeds alles verloor het: hulle het ook hulle selfrespek en strydlus verloor.

Ons sal moet opstaan voor dit te laat is en ons alles verloor het. Ons wil ook nie bankrot in ‘n volksrepubliek ingaan nie, want dan is dié van die begin af tot mislukking gedoem, want ook daar word kapitaal benodig.

Kom ons wend nou ‘n uiterste poging aan om ons te skaar by enige vryheidstrewe wat ons gebied word.