Vir die staat om sy huis in orde te kry, blyk ‘n onbegonne taak te
wees. Daar is Polisiestasies wat skielik van onder ‘n boom af
bedryf moet word omdat die Departement van Openbare Werke
nie die huurgeld betaal het nie – of sonder water en krag sit
omdat munisipale rekenings nie betaal is nie.
Dit blyk maar die oortjies van die seekoei te wees.
Wanadministrasie, korrupsie en die brouwerk van onbekwame
ontplooide kaders word goedsmoeds verdoesel. Vroeër is
berig dat die Departement van Openbare Werke erken het dat
sy sake in chaos verval het, en dat ‘n multi-departementele span
aangestel is om te help om sake uit te pluis en oplossings te vind.
Verskeie munisipaliteite trek noustrop deels omdat die staat nie
sy munisipale rekenings vereffen nie. Kort-kort erken die staat
dat hy nie weet watter eiendom hy besit nie, hoewel in die
jongste tyd, die Departement van Openbare Werke meen hy
weet wat die staat besit, net nie waar die eiendomme is nie.
Nie alle intelligente lewe sal egter hierdie stelling kan verstaan nie.
Verskeie ander lagwekkende voorvalle het ook al plaasgevind.
By geleentheid het ‘n groot koerant se sekretaresse bedank en
in die huwelik getree. Skielik was die redakteur se personeellêer
skoonveld. Na die wittebrood kry die koerant haar in die hande
om vas te stel wat van die lêer geword het. Dis geliasseer,
onder “M” vir “Meneer” kom die verduideliking. As na
departemente se verduidelikings geluister word soos dit
voorgehou word aan die verskillende portefeuljekomitees, klink
dit of baie inligting onder “D” vir “deurmekaar” geliasseer word.
Dit lyk inderdaad of D-dag aangebreek het. Die staat het op
nasionale vlak in verskeie provinsies ingegryp, en probeer
om hierdie deurmekaarspul uitgepluis te kry. Die Ouditeur-Generaal,
self sonder uitvoerende gesag, probeer jaarliks om sake te orden,
maar niks of baie min word ooit suksesvol uitgerig.
Onlangs het die nasionale ingryping in die Vrystaat se Departement
van Paaie en Polisie, wat ook die tenderraad akkommodeer,
sy eerste ernstige ongeval opgelewer toe die Adjunk-Direkteur-
Generaal afgedank is. Soos gebruiklik blyk dit dat hy ‘n spoor van
soortgelyke probleme by sy vorige werkgewers, twee Vrystaatse
munisipaliteite, agtergelaat het. Hy is egter telkens na hoër poste
herontplooi.
En sy verhaal is ongelukkig nie ‘n uitsondering nie. Seker een
van die mees klassieke voorbeelde was toe die Premier van
die Vrystaat, Ace Magashule, die munisipale bestuurder van
‘n munisipaliteit wat onder administrasie geplaas was, as LUR
vir plaaslike regering aangestel het. Dié aanstelling het soos
verwag kon word, nie gehou nie. Tog het dit veel langer
geduur as wat dit moes, en die Vrystaat het die prys betaal.
Dit onderstreep weer die belangrikheid van persvryheid. Die media
behoort toegelaat te word om die kapasiteit te ontwikkel
om die sterkste beskikbare kandidate aan te stel, sodat versteekte
lêers en ongeruimdhede uitgesnuffel kan word. Hierdie lêers moet
behoorlik uitgeskud, en aan die kiesers voorgehou word.