Die nuus dat minstens 18 van die 53 myne in die land wat nie ’n geldige waterlisensie het nie in die vrugbare landbouprovinsie Mpumalanga voorkom, is rede tot groot kommer. Boere probeer al sedert 2005 om die regering se aandag op die waterbesoedeling in die provinsie te vestig, maar steeds word mynbou-lisensies sonder voldoening uitgereik. Dit is veral die boerederybedrywighede rondom Delmas, Ermelo, Carolina en Standerton wat nou plek moet maak vir steenkoolmyne. Die ondergrondse water word besoedel omdat daar geknoei word met omgewingsimpakstudies.
Nou, sewe jaar later, erken die Minister van Waterwese en Omgewingsake by implikasie dat die eens gesogte landbou- provinsie onder druk verkeer. Sy wys darem daarop dat die getal myne sonder waterlisensies in die land van 125 na 53 gekrimp het. Te veel van hulle is egter steeds in Mpumalanga. Boere word nou deur die Europese Unie gewaarsku dat hulle besproeingswater van ’n swak gehalte is en dat dit uitvoere kan belemmer. Boere sê selfs al rehabiliteer mynhuise die grond waarop steenkool ontgin is, is die oesopbrengs steeds net sowat 25 persent. Hulle sukkel ook om insae in myne se waterlisensies te kry en het nie geld om dit in die howe af te dwing nie.
Verskeie landbou-unies is nou besig om regsmenings in te win en as dié groepe saam met ander rolspelers besluit om met ’n groepsgeding teen die regering en myneienaars te begin, gaan dit ’n eienaardige spul afgee.
Water is ’n basiese reg en al word politieke regte soos vroeër die week op Menseregtedag besing, bly dit steeds ’n voldonge feit dat geen mens en dier en nywerheid sonder water kan klaarkom nie.
Die filosoof John Locke is waarskynlik die eerste groot denker wat daarop gewys het dat menseregte die verpersoonliking van die natuurlike regte is wat God aan die mens gegee het. En wat is meer natuurlik as water?
Dit is onaanvaarbaar dat gierigheid aan die wortel van die kwaad lê. Wie is die mynhuise wat so op selfverryking ingestel is dat hulle nie dors mense en diere en ’n dor landskap kan raaksien nie?
Twee steenkoolmyne in Mpumalanga behoort na bewering aan die president van die Kamer van Mynwese. Nog een, Umcebo, myn in die Nkomati-opvangebied en behoort aan ’n oud-direkteur-generaal van handel en nywerheid. Myne wat aan die magnaat Patrice Motsepe behoort, is ook in die gedrang. Ander name wat genoem word, is Exxaro, Vuna Mining, Modikwa, Anglo Coal, Foskor – almal mynhuise wat op die oog af politieke verbintenisse met die regering het.
Hierdie gierigheid word al hoe meer ’n simbool van wat in die land gebeur sedert die Apartheidsbeleid in 1994 tot ’n einde gekom het. Die ANC se gewese hoofwoordvoerder wat na Cope oorgeloop het, Smuts Ngonyama, het nie verniet gesê hy het nie aan die “struggle” deelgeneem net om arm te wees nie. Het dit nou al ’n algemene doktrine geword?
As dit waar is, kan daar nie van menseregte en ’n grondwetlike demokrasie gepraat word nie.
Ons dors almal na geregtigheid …