"Pretoria. – Suid-Afrika sal voor die einde van die jaar nuwe banknote, met ’n afbeelding van oudpres. Nelson Mandela se gesig, in gebruik neem.
Dit is die eerste keer sedert die afbeelding van Jan van Riebeeck se gesig op Suid-Afrikaanse banknote dat daar weer ’n afbeelding van ’n persoon gebruik word.
Pres. Jacob Zuma het Saterdag spesiaal van Kaapstad na Pretoria gereis om die aankondiging by die Suid-Afrikaanse Reserwebank te doen op dieselfde dag as wat Mandela 22 jaar gelede uit die tronk vrygelaat is.
Die besluit vir ’n nuwe ontwerp, wat R2,5 miljoen gekos het, is in oorleg met pres. Zuma en die minister van finansies, mnr. Pravin Gordhan geneem.
Die nuwe note sal dieselfde afmetings, denominasies en kleure as die bestaande note hê. Op elke denominasie sal ’n afbeelding van een van die Groot Vyf op die agterkant pryk.