geweld teen vroue en kinders, ‘n boodskap wat sal neig om sleg die wind van
voor te kry in sy aanspraak en mededinging op mediadekking. Hierdie boodskap
kom te midde van COP 17 wat gister in Durban begin het, die Menseregtekommissie
se haatspraakverhoor teen Julius Malema na meer as 500 klagtes ontvang is,
en die storm oor die omstrede wetsontwerp op die Beskerming van
Staatsinligting wat internasionaal die weerlig trek. In hierdie dae gaan
die president se woordvoerder, mnr. Mac Mararaj, boonop die les leer dat
‘n mens nie sommer swaarde kruis met diegene wat die ink by die vat
aanskaf nie.
Boonop was daar die naweek nog ‘n plaasmoord, kort voor ‘n afvaardiging
van Afriforum die VN se Menseregteraad oor dié ramp inlig.
Met die oë van die wêreld op COP 17, sal dit nie vreemd wees nie dat
Suid-Afrika in geheel meer as gewoonlik onder die wêreld se vergrootglas
gaan beland nie.
Suid-Afrika word gereeld die verkragting-hoofsetel van die wêreld genoem.
Volgens die jongste amptelike misdaadstatistiek is daar in die betrokke
jaar 66 196 gevalle van verkragting by die SAPD aangemeld. Volgens
maatskaplike werkers word slegs sowat een uit tien tot een uit dertig
verkragtings by die polisie aangemeld.
Amper 200 000 gevalle van aanranding is by die polisie aangemeld, waarvan
‘n groot persentasie vroue en kinders slagoffers sou wees. Daar was effens
meer gevalle van aanranding met die opset om ernstig te beseer, wat ‘n
aanduiding gee dat ook nie alle aanrandings by die polisie aangemeld word
nie. Net minder as 16 000 mense is vermoor, en byna net soveel gevalle van
poging tot moord is aangemeld, weer eens ‘n aanduiding dat alle gevalle van
poging tot moord nie op klagtes by die SAPD uitloop nie. En in elk van
hierdie kategorieë was daar ook vroue en kinders die slagoffers. Meer as
3 000 gevalle van kinderverwaarlosing of die mishandeling van kinders is
ook aangemeld. Vroue en kinders sou ook deel van die statistiek wees
soos strafbare manslag, kapings, rooftogte en vele meer.
Met die hoë voorkoms van MIV – Vigs is verkragting ‘n veel ernstiger saak.
Voorts is die ouderdomme van verkragtingslagoffers tekenend van ‘n siek
gemeenskap – dit wissel van babas tot oumatjies van 103 jaar oud – dit
sluit invalides in, en boonop is die verkragter dikwels aan die slagoffer
bekend of selfs ‘n familielid, of selfs die pa.
Grootskaalse werkloosheid en armoede word dikwels as grondoorsake
van die maatskaplike euwels gelys as faktore wat tot hierdie soort
misdaadsyfers lei. Al hoe meer studies wys egter ook daarop dat die
inkomstegaping ‘n soortgelyke effek op die tronkbevolkings het, en
Suid-Afrika is volgens sommige bronne nie net die land met die hoogste
meetbare inkomstegaping nie, maar een waar dit besonder snel toeneem.
In die aanloop tot die wêreldbekersokkertoernooi en tot ‘n ruk daarna het
Suid-Afrika ‘n taamlike windstilte van misdaad beleef, en die regering sa
l alles in sy vermoë doen om te verseker dat dieselfde tydens COP 17 gebeur
. Die plaasmoord en verskeie plaasaanvalle in die Wes-Kaap op die vooraand
daarvan is egter simptomaties dat Suid-Afrika nie daarop kan staatmaak
dat die land internasionaal sal baai in gunstige publisiteit nie.
Die stryd teen verkragters en kindermishandelaars moet egter nie beïnvloed
word deur die feit dat die oë van die wêreld op die land gerig is nie. Elke
landsburger het ‘n plig om dié euwel hok te slaan, al is dit net om verdagte
gevalle onmiddellik aan te meld.