Sewe jaar van hel. Sonja Carstens het met die oudpolisieman Eugene Clarence (38) gesels oor sy stryd om
heraangestel te word ná ’n noodlottige nag in 2004.
Mnr. Eugene Clarence, ’n voormalige inspekteur by die Pretoria-Wes
-polisiekantoor, is in 2005 summier ná ’n tugverhoor ontslaan nadat
daar bevind is hy het insp. Steve Thoka “gejag soos ’n dier” en wou
’n trofee van hom maak.
Sewe jaar lank hou Clarence voet by stuk dat hy die dronk Thoka op
12 November 2004 uit noodweer doodgeskiet het.
In November het drie regters van die arbeidsappèlhof Clarence gelyk
gegee en gelas dat hy terugwerkend heraangestel word. Die polisie
moet ook die koste van die aansoek betaal.
Wéér het die polisie aansoek gedoen om spesiale verlof om appèl in
die appèlhof in Bloemfontein.
Ook dié aansoek is verlede week met koste van die hand gewys.
Maar steeds hou die polisie aan.
Volgens kol. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, win die
polisie regsadvies in oor sy volgende stap.
“Sodra die polisie besluit het wat hom verder te doen staan, sal
Clarence se regspan daarvan ingelig word. Totdat ’n besluit geneem
is, beskou die polisie die saak as sub judice,” het Naidoo gesê.
In hofstukke hou die polisie vol dit was onnodig vir Clarence om Thoka
te skiet. Thoka het immers sy vuurwapen ook op verskeie ander
mense gerig sonder om hulle te skiet.
Volgens die polisie moes Clarence bloot sy kollega se dienspistool
gaan afneem en hom gearresteer het.
Thoka se familie het jare gelede reeds belangstelling in die regstryd
verloor.
Ook die direkteur van openbare vervolging (DOV) het in 2005 die
moordsaak teen Clarence in die Pretoriase landdroshof teruggetrek
nadat die ballistiese toetse wat op sy vuurwapen gedoen is nie die
koeël aan Thoka se doodskoot kon verbind nie.
Die polisie het nie enige ander lede wat dié nag op die toneel was se
wapens getoets nie. Clarence weet nie of iemand anders ook geskiet
het nie.
Tog het die voorsitter van die polisie se tugverhoor geweier om die
uitslag van die ballistiese toetse as bewysstuk te aanvaar en is
Clarence nietemin ontslaan.
Clarence, ’n instandhoudingsbestuurder op Modimolle, sê as hy toe
geweet het wat hy vandag weet sou hy nooit daardie Vrydagnag gaan
werk het nie.
Die gebeure is steeds glashelder by hom. Thoka het dronk opgedaag
vir werk en is huis toe gestuur sonder dat sy dienspistool by hom
afgeneem is.
Op pad huis toe het Thoka sy gespande vuurwapen op vroue in
Pretoria-Wes gerig.
Insp. Manie van Wyk, die skofbevelvoerder, is saam met Clarence
en nog twee polisielede agter Thoka aan om sy dienspistool af te neem.
Toe hulle Thoka kry, het hy sy pistool op hulle gerig en gesê hulle
moet hom uitlos. Clarence het hulp ontbied.
Thoka is in ’n donker veld in.
Met behulp van lugfakkels om die veld te verlig is hulle agter Thoka aan.
Thoka het wéér sy dienspistool op hulle gerig en hom nie gesteur aan
Clarence se twee waarskuwingskote of versoeke dat hy sy vuurwapen
moet neersit nie.
Toe neem Thoka staande posisie in en in ’n breukdeel van ’n sekonde
skiet Clarence.
“Van Wyk het gevries toe Thoka sy wapen op ons rig. Ek het geweet hy
is dronk, maar ook besef hy is opgelei om te skiet en dat hy 80%
akkuraat moet kan skiet.
“Die polisie lei jou nie op om iemand in die skouer te skiet nie. Jy word
opgelei om te skiet om dood te skiet. Oor ’n afstand van 36,7m het ek
in ’n donker veld geskiet, Thoka het geval, ek het hulp ontbied,” vertel
Clarence.
Hy is op die toneel in hegtenis geneem weens Thoka se beweerde moord.
“As jy pistoolskiet doen, skiet jy nooit verder as 15m nie. Om iemand in
die nag oor dié afstand in die kop te skiet, is ’n frats. Ek het gemik vir
sy bors.”
Hy het drie nagte in die polisieselle geslaap voordat hy op borgtog
van R5000 vrygelaat is – geld wat sy vrou, Sanette, by familielede
moes leen.
Die egpaar se seuntjie, Brandon (7), was toe vyf maande oud.
Op Thoka se roudiens het offisiere geskreeu: “Killers will be killed.”
’n Plakker met dieselfde woorde is op die kantoordeur van die
misdaadvoorkomingseenheid geplak waar Clarence gewerk het.
“Nag ná nag het ek bykans nie ’n oog toegemaak nie.”
Eers is daar met sy motorfiets se remme gepeuter. Toe met sy motor
s’n ook. “Ek het heeltyd oor my skouer gekyk. Ek het my bevelvoerder
gevra om my oor te plaas na die Hercules-polisiekantoor, binne ’n
dag was dit van krag.”
Clarence moes ná Thoka se dood hoor Thoka is in Januarie 2004
onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit toe hy nog by die
Pretoria-Sentraal-polisiekantoor gestasioneer was.
Nie ’n woord is gerep oor hoe Thoka ’n dienspistool bekom het nie,
veral omdat daar hangende aanrandingsklagte teen sy naam was.
Niemand is ook aangekla weens die versuim om Thoka se dienspistool
dié nag af te neem nie.
Ná Clarence se ontslag moes hy dringend werk soek om kos op die
tafel te kry.
Sy vrou was swanger met hul dogtertjie, Nikita, nou vyf jaar oud.
“Ek het eiendomme probeer verkoop, by die Casbah Roadhouse in
Kerkstraat as ’n toesighouer gewerk en loodgieterwerk vir ’n
vriend gedoen.”
Clarence het mettertyd ’n pos as veiligheidswag by ’n wildreservaat
buite Bela-Bela gekry. Daar het hy gehoor mnr. Giovanni (Johnny)
Abbatemarco (58), vermoorde sakeman en wildplaaseienaar, is
op soek na ’n instandhoudingsbestuurder.
“Ek het my CV gestuur en hy het my genooi vir ’n onderhoud. Ek het
my hele verhaal vertel – ook dat ek my afdanking betwis. Hy het my
’n kans gegee,” vertel Clarence.
Hy werk steeds vir Abbatemarco se seun, Angelo.
Clarence vertel sy probleme in die polisie het nog voor Thoka se
skietdood begin – op die dag wat hy Vincent Ntengo, Gauteng se
voormalige omstrede speurhoof, aangekla het van regsverydeling.
Ntengo het twee beskuldigdes vrygelaat wat Clarence gearresteer
het voordat die dossier aan ’n aanklaer voorgelê is om te besluit
of daar ’n prima facie-saak is.
Ironies genoeg het mnr. Werner Kruger, die prokureur wat die afgelope
sewe jaar sonder vergoeding verbete om Clarence se heraanstelling
baklei, tóé vir Ntengo opgetree.
Ntengo het in 2006 die polisie se diens verlaat nadat hy skuldig bevind
is aan onder meer menseroof en minagting van die hof.
Volgens Kruger moet die polisie reeds meer as R1miljoen aan salaris
en byvoordele aan Clarence uitbetaal wat hy die afgelope sewe jaar
verbeur het.
Ná alles wil Clarence steeds terugkeer na die polisie.
“Ek mis die uitgaan na tonele, die ondersoekwerk, die verskil wat ’n
mens vir die gemeenskap kan maak, al is dit hoe klein.
“Maar as ek my wéér in daardie situasie bevind, sal ek nie weer skiet
nie. Daarvoor was die afgelope sewe jaar net te erg.”