Wanneer Geloftedag oor ’n paar dae gevier word, sal boere regdeur Suid-Afrika tydens Geloftefeeste terugdink hoe Afrikaners 175 jaar gelede op soek na vryheid - en grond - die binneland ingetrek het.
Die stryd om grond en gepaardgaande botsings op die Kaapse oosgrens en die inkonsekwente hantering van die grondvraagstuk deur die Britse koloniale bewind was immers ’n vername rede vir die Groot Trek.
Grond was ook die onderwerp van die traktaat tussen Piet Retief en die Zoeloekoning Dingaan wat onderteken is kort voordat Retief en sy geselskap uitgemoor is. Sedertdien was die struwelinge - maar ook die skikkings - tussen Boere en plaaslike inboorlingstamme telkens deur grondgeskille geïnspireer.
Maar die stryd om grond in Suid-Afrika het onbeslis gebly. In 1913 en weer in 1936 het Gen. JBM Hertzog gepoog om swart grondbesit en grondbestuur in Suid-Afrika te kodifiseer. Onder leiding van Dr. HF Verwoerd is sedert 1948 – 1966 gepoog om die sogenaamde trust-gebiede of reservate soos dit voorheen bekend gestaan het, met staatkundige gesag van selfregering en uiteindelik onafhanklikheid te beklee.
Maar die idee van afsonderlike vryheid vir swart volkere het nie op die lange duur aanklank gevind by die agitators vir een-mens-een-stem regering in Suid-Afrika nie. Deeglik bewus van die reuse getalle-oorwig van swart mense, het ANC- en PAC-leiers deurgaans aangedring op Suid-Afrika as een onverdeelde land en die samevoeging van die verskillende volkere van die land tot een sogenaamd verenigde nasie.
Vandag is Suid-Afrika inderdaad ‘n onverdeelde land. Die bewindhebbers kies gerieflikheidshalwe om daarop te hamer dat slegs 13% van die land se grond in swart besit is. Hierdie syfer dateer terug na die 1936-syfers van Gen. Hertzog en neem nie in ag dat miljoene hektaar grond in staatsbesit is, of in besit is van swart bemagtigde maatskappye, of sedert 1998 aan swart grondeisers-gemeenskappe oorgedra is nie.
Die proses van grondherverdeling wat in 1998 begin is, sal onthou word as een van die mees koste-ondoeltreffende oefeninge wat ’n regering nog aangepak het. Trouens, as al die geld wat die afgelope 13 jaar deur die staat spandeer is aan sy begroting vir grondhervorming, bymekaargetel word, kon al die geëiste grond reeds teen markprys aangekoop en oorgedra gewees het.
Maar die geld het in ’n bodemlose put van burokrasie, korrupsie en blote oneffektiwiteit beland.
Telkens soek die huidige bewind die medisyne vir sy eie ondoeltreffendheid op die verkeerde plek. Dit is asof ‘n selfgeskepte mislukking gebruik word om die weg te berei vir ’n meer sosialistiese agenda.
’n Groenskrif vir grondhervorming is onlangs gepubliseer en die publiek het tyd tot die einde van Desember om kommentaar daarop te lewer.
- Die groenskrif bepaal dat grond ’n “nasionale bate is” en maak voorsiening vir die vervanging van private eiendomsreg met “vrypag”.
- Staatsgrond sal nie meer in private besit oorgedra word nie, maar slegs by wyse van “huurpag” aan individue en gemeenskappe beskikbaar gestel word.
- Streng beperkings sal geplaas word op die voormalige eiendomsreg van buitelanders op Suid-Afrikaanse grond.
- ’n Onheilspellende nuwe burokratiese struktuur, die “Grondbestuurs-kommissie”, word in die vooruitsig gestel.
2012 sal die jaar wees waarin Suid-Afrika hierdie ingrypende inbreuke in die land se beproefde stelsel van eiendomsreg moet oorweeg en afweer.
- Grondeienaars sal moet werk aan openbare voorleggings en petisies oor die saak.
- Die burgerlike samelewing sal homself moet voorberei op die moeder van alle regstryde; en
- Boere moet hulleself organiseer om grond in hulle besit self te bewerk en te bestuur.