oorsese koerante nie baie optimisties dat ‘n opvolger vir die Kyoto-verdrag
gevind sal word nie. Na berig word het verskeie van die ondertekenaars van
die Kyoto-verdrag, soos Japan, Rusland en Kanada, aangedui dat hulle nie ‘n
opvolging sal onderteken nie, pres. Barack Obama het aangedui hy gaan die
VSA se koolstofbeleid op dreef kry maar is ook nie baie lus vir ‘n handtekening
op ‘n internasionale verdrag nie, en Sjina is ook traag om van sy voordeel
afstand te doen. In die aanloop tot ‘n groot krisis is daar dus nie veel
entoesiasme nie.
Onder die talle redes waarom die wêreld se industriële land nou traag is,
is dat hulle meen dit hou geen sin in as 192 lande ‘n verdrag teken wat nie
nagekom word nie. Koyto-verdrag ten spyt, het die uitstoot van Koolstof
verlede jaar ‘n nuwe rekordvlak bereik. Die ryker lande meen dit hou meer
sin in dat hulle toegelaat word om in meer hernubare kragontwikklingsprojekte
te investeer, ook in die armer lande, sodat meer mense toegang tot krag sal hê.
Die bakhandsindroom staan ook soos ‘n blok in die deur. Suid-Afrika wil ‘n
groenfonds in die lewe laat roep waarin die ryk lande jaarliks $30 miljard
stort, wat teen 2020 reeds $100 miljard sal bedra. Met die huidige
wêreld-ekonomiese krisis is die wêreld se gebruiklike spaarvarkie,
die VSA, nou leeg, en ander lande wat wel bydraes kan lewer, is skepties.
Saoedi-Arabië wil byvoorbeeld weet hoe dié land sal baat as dit tot die fonds
bydra, en dit lei tot ‘n afname van sy olie-uitvoere.
Politieke korrektheid het ook nog nie die wyk geneem nie. Niemand waag
nog om ‘n woord te rep oor die eintlike probleem nie. Die mensdom het
onlangs die 7 miljardkerf bereik. Die probleem is nie net die getalle nie,
maar dat die aanwas gewoonlik geskied in lande wat dit die minste kan
bekostig. Boonop is Suid-Afrika besig om twee mega-steenkoolkragsentrales
te bou, weliswaar met koolstof-verminderde tegnologie. Trouens, by COP 17
het Suid-Afrika onder die VN se tong deurgeloop omdat die land per capita
die grootste koolstof-voetspoor ter wêreld neersit. Die koolstofvoetspoor
van die Wêrldsokkerbekertoernooi in Suid-Afrika was agt keer groter as
die vorige in Duitsland. Die onverantwoordelike lande se probleem word in die
globale konteks dus ander se probleem.
Die Amerikaanse skrywer, Charles C. Mann, het pas ‘n nuwe boek geskryf
waarin die die verhaal van globalisering by Columbus se herontdekking van
die Nuwe Wêreld gehaal word. Na Columbus se herontdekking het talle
produkte soos aartappels, patats, tamaties, pampoene, mielies en sekere
soorte boontjies die ou wêreld bereik waar sommiges stapelvoedsel
geword het. Omgekeerd het koring, onder meer, na die Nuwe Wêreld
koers gekry en bygedra om ‘n kosmandjie vir ‘n groeiende wêreldbevolking
te skep. Hiermee, argumenteer Mann, is daarin geslaag om die mensdom
minder blootgestel te maak aan periodieke kosskaarstes en kon die mensdom
sy getalle geweldig uitbrei. Daar was wel terugslae, soos toe talle Iere gesterf en
ander geëmigreer het toe ‘n siekte die aartappeloes vergiftig en ‘n hongersnood
veroorsaak het.
Die fokus is egter nou op Durban. Aan die positiewe kant verwag min waarnemers
dat COP 17 die wêreld met leë hande gaan laat. Suid-Afrika verkondig dat dit na
skoon energie mik, en dat 27 % van die land se krag teen 2030 hernubaar moet
wees. Of dit wat beredder gaan word egter genoeg gaan wees om die mensdom
se koolstofvoetspoor te verminder, is ‘n vraag wat oor sowat twee weke
beantwoord sal wees.