Die onluste in Thumahole, Parys, het die fokus geplaas op die
treurige toestand van Vrystaatse munisipaliteite. ‘n Groot
deel van die probleem is dat die munisipaliteite saam meer
as R4 miljard aan dienstegelde geskuld word.
Staatsdepartemente se aandeel hieraan is R300 miljoen.
Die LUR vir plaaslike regering pak die skuld op swak bestuur
en ‘n tekort aan finansiële en beheermaatreëls.
Die probleme is egter omvattender. Thumahole is die
tuisdorp van die premier, Ace Magashule, en ook
sy magsbasis. Nepotisme en kaderontlooiing in die plaaslike
munisipaliteit, Ngwathe, is het ‘n duur prys en sleep ook
omliggende dorpe in wat onder dieselfde munisipaliteit gebuk
gaan, soos Heilbron.
Uit verslae soos dié van Municipal IQ en die Ouditeur-generaal
blyk dit egter dat die Vrystaat nie werklik al swart skaap is
nie. Veral in die Oos-Kaap is munisipaliteite wat die sukkelende
Vrystaatse munisipaliteite lag-lag na die kroon steek. Selfs
Johannesburg se jongste OG-verslag is maar bedroewend.
Die LUR kan egter nie bloot die fout volledig op plaaslike
regering afskuif nie. Die kantoor van die Vrystaatse Premier
swyg nog soos die graf oor wat van R1 miljard geword het
wat by die provinsiale regering self soek geraak het, en
waaroor die Ouditeur-generaal onlangs verslag gelewer het.
Maar die nasionale regering self vaar nie veel beter nie, en stel
oor die algemeen nie ‘n goeie voorbeeld nie.
Heelwat staatsgeld is gebruik om sekere projekte wat met
die ANC se eeufeesvieringe verband hou te finansier. Onlangs
is berig dat drie vliegtuie ingespan is om te verseker dat pres.
Jacob Zuma betyds by ‘n vergadering van die VN opdaag.
Werkloosheid en die onbekostigbaarheid van selfs die mees
basiese dienste is ‘n groot deel van die probleem. Jaarliks
skryf munisipaliteite groot bedrae af as oninvorderbare slegte
skuld. Hoe nader die land aan ‘n verkiesing staan, hoe
indrukwekkender is die afskryfaksies.
Die ANC pas in beginsel nou ‘n aangepaste kaderbeleid toe,
deurdat kamma vereis word dat die kaders darem ook bekwaam
genoeg vir die werk behoort te wees. Die probleem met
belangebestuur is dat die grense daarvan getoets word.
Afriforum het pas toegetree tot ‘n swendelaksie by
Wallmanstall wat in ‘n onwettige grondgrypaksie ontaard het.
Ander instansies het reeds tevore probeer ingryp. Die polisie
het egter versuim om interdikte toe te pas. Eers toe Afriforum in
die hart van die bedrogspul ingryp en bankrekenings deur
‘n hofbevel laat vries het die kwessie die nodige media-aandag
getrek.
Die bestuur van die land reageer asof korrupsie endemies is,
waarvan ‘n tipiese simptoom is dat werksgeleenthede soos mis
voor die son verdwyn. Veral permanente werksgeleenthede
kom onder druk, omdat werkgewers in die privaat
sektor aan omkoop-mededingers uitgelewer is. Die openbare
sektor sukkel kort voor lank ook om sy personeeluitgawes te
finansier. Benewens geld wat wegraak of nie ingevorder word
nie, is die inkomstegaping in munisipaliteite so groot
dat jaarlikse stakingseisoene gewaarborg is. Die soustreinryers
slurp net buitensporig baie op.