Ongetwyfeld was die afgelope week ‘n baie slegte week vir die
Afrikaner.
Eers raak dit bekend dat die ANC-regering beplan om die taalwet
so te omskryf dat Afrikaans geen kans het om as amptelike taal
in enige staatsinstansie te oorleef nie.
Dit word duidelik dat blanke gestremdes geen beskerming meer
geniet of voordeel mag trek uit “affirmative action”-wetgewing nie.
So saam met die bevinding dat Suid-Afrika die enigste land ter
wêreld is waar die moordsyfer aansienlik hoër as die
padsterftesyfer is, word dit weer bevestig dat wit boere heel
voor in die lys van gevaarlike beroepe staan.
Al die dinge kan ‘n mens waarlik mismoedig en moedeloos laat voel.
Laat ons egter net ‘n oomblik stilstaan en vasstel waarom ons
van hierdie dinge weet, want sekerlik sou die ANC nie self die
onderdrukkende besluite en gebeure aan die groot klok gehang
het nie.
Ons weet daarvan juis omdat groepe en indiwidue reeds begin het
om daarteen op te staan.
Oor die taalwet het verskeie Afrikaanse belangegroepe reeds hulle
stem dik gemaak en selfs die DA-regering van die Wes-Kaap
het al gedreig met die Grondwethof.
Solidariteit het die regering se plan met betrekking tot blanke
gestremdes oopgevlek en begin met teenaksie.
Die uitwissing van blanke boere het tot in die Europese parlement
weerklank gevind as deel van ‘n veldtog van veral TLU SA om
protes teen die dreigende volksmoord aan te teken.
Tot ‘n groot mate is dit te danke aan die mate waartoe vryheid van
spraak steeds bestaan, dat ons ten minste weet van die
dreigende onheil en die aksies daarteen. Dit is waarom ons so
jaloers oor dié reg moet bly waak.
Daar is geen waarborg dat die protesaksies hierdie slegte besluite
en gebeure gaan afweer nie, maar daar is wel ‘n waarborg dat
as ons niks doen nie, die slegte besluite en gebeure hand oor hand
gaan toeneem.
Daar is ‘n gesegde wat lui dat al wat dit verg vir die bose om te
floreer, is vir ‘n paar goeie mense om niks te doen nie. Die
meeste van die tyd is dit ‘n eenvoudige aksie van ondersteuning
wat uitgevoer moet word, soos ‘n e-pos, ‘n teksboodskap of die
ondertekening van ‘n petisie.
Dikwels hoor ‘n mens die argument dat dit tog nie gaan help nie –
dit is al soveel keer probeer.
Die feit bly – as jy niks doen nie, gaan dit beslis nie help nie.
Word deel van die stroom van protes, want dit is al hoe die
stroompie in ‘n vloed gaan verander…
Begin sommer vandag. Ondersteun die verskillende groepaksies,
petisies en skenkings om onder andere plaasaanvalslagoffers
te help.
Die beste tyd om iets te doen om boosheid te stuit, is nou!