Tuesday, 7 February 2012
HOOP VAN DIE BOERKIND:
Toe die wêreldkind nog jonk was en in onskuld steeds kon glo
en in jongmenskyk met maanskyn blink, sonder oumens-somber oë,toe die grond nog heel sy hart kon bied en die Boerseunwense voed,
so het daardie dae se son gesak wat voor Afrika moes boet.
Toe die Boer nog vry kon asemhaal as die kuddes huiswaarts keer
en die bontkorhaan en kiewietsang oor die waaigras God kon eer.
Toe die kleinseun in die klipkraal agter skape aan kon dwaal
so is daardie dae in as gegiet wat moes buig voor blink metaal.
Toe die tafel nog in skemerlig, in die flik’ring van die kers,
oor die sorg geleesde woorde skyn van die Oupabybelvers.
Toe die bedsprei nog as altaar vir die knielend Boer moes dien,
so word daardie Boerekinderglo as die spotliedmaal bedien.
In ’n wêreld wat nog eens sal draai, waar die son weer rooi sal rys,
dis die land waar Boerkindvoete weer as tuiste sal deurkruis.
DIE PRAGTIGE GEDIGTE WAT EK OP DIE BLOG PLAAS WORD ALMAL GESKRYF DEUR:
WILHELM PRETORIUS