Met oud-president Moamar Ghadaffi van Libie uit die weg geruim, kan tereg gevra word wie is volgende?
Die afgelope dekade het die VSA en sy bondgenote begin met 'n reeks invalle in verskeie lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika. Die eerste slagoffer van Amerika en sy Europese bondgenote se veldtog teen diktotariale presidente wat volgens Amerika se opvatting te ondemokraties en te lank aan bewind was, was Irak se president Saddam Hoessein. Onder die voorwendsel dat Irak oor groot hoeveelhede wapens van massa vernietiging beskik, is Irak op die aand van 19 Maart 2003 deur Amerika en sy bondgenote binnegeval. Na verloop van etlike jare is Saddam Hoessein tereggestel, geen wapens hoegenaamd van massa vernietiging is in Irak gevind nie en 'n leibandhondjie-regering wat Amerika en sy bondgenote onderdanig was, is in Irak aan bewind gestel. Van Irak se belangrikste uitvoer-produkte ten tye van Amerika se oorname was olie, aardgas fosfate en sulfate.
Na Irak het Tunisië en Egipte aan die beurt gekom. Let daarop dat Tunisië ook 'n belangrike olie uitvoerland is en dat Egipte verlede jaar 700 vate olie per dag ontgin het. Die verskoning vir die invalle in Tunisië en Egipte was dat die lande se presidente te lank aan bewind was. Die vraag word dan oook gevra wie aan Amerika die bevoegdheid verleen om te besluit wie watter land vir hoe lank mag regeer asook hoe demokraties dit is om heersers in lande buite Amerika uit regerings te skop? Nog 'n belangrike uitvoerland van olie is Libië. President Moamar Ghadaffi was sowat vier dekades lank in die land aan bewind en volgens Amerikaanse beoordelaars was dit lank genoeg.
Op 1 September vanjaar word deur verskeie nuusagentskappe berig dat Libie se oorgangsregering aan Frankryk belowe het dat in ruil vir die hulp wat die Franse regering tydens die Libiese opstand aan die opstandelinge verleen het, die opstandelinge na oorname van die Libiese regering, 35 persent van die land se olie-opbrengs aan Frankryk sal afstaan. Na Ghadaffi se dood word nog ‘n leibandjie-regering ingestel, en in die geval kry ‘n Amerikaanse bondgenoot, Frankryk, darem ook 'n goeie olie beloning. Die vraag kan dus tereg gevra word: het die opstande in Afrika oor sogenaamde demokrasie of oor die beheer van oliebronne gegaan? Amerika het reeds besluit dat Sirië se president ook lank genoeg aan bewind was. Die gevolg is dat opstande kort-kort in Sirië uitbreek, opstande aangevuur deur Amerika en sy Navo- bondgenote. Almal waarskynlik op soek na olie – ‘n grondstof waarop Sjina blykbaar regoor Afrika en Midde-Oosterse lande tot ‘n groot mate beslag gelê het.
Eienaardig genoeg bly Amerika tjoepstil oor die plase wat deur Zimbabwe se president Robert Mugabe van Blankes ontneem is. 'n Doodse swye word ook gehandhaaf oor die gevorderde kernnavorsing wat deur Suid-Afrika gedoen is en wat na die ANC/SAKP bewindoorname deur die nuwe regering op aandrang van Amerika tot niet gemaak moes word. Wanneer Sirië se regering vernietig is, soos die van onder meer Libië en die sogenaamde Apartheidsbewind in Suid-Afrika, watter bewind is die volgende wat vernietig sal word? Waarskynlik sal Iran die volgende teiken wees. Kommunistiese state soos Venezuela, Sjina en Kuba, sal waarskynlik met rus gelaat word om die wêreld se kommunistiese uitbreiding nog dekades lank voort te sit. Darem eienaardig dat kommunistiese bewinde toegelaat word om dekades lank hulle humanitêre vernietigingswerk voort te sit, terwyl heelwat demokraties verkose bewinde se verkose leiers uit die weg geruim moet word.