Die VN-verslag het gesê dat ekonomiese onsekerheid, ‘n lae graanvoorraad, die noue verband tussen energie- en landboumarkte en die hoër risiko van slegte weer, waarskynlik dramatiese prysskommelings vorentoe kan veroorsaak.
Die verslag het bevind dat baie lande in Afrika en ander invoer-afhanklike gebiede steeds gebuk gaan onder probleme wat deur die wêreld se voedsel- en ekonomiese krisisse van 2006 tot 2008 veroorsaak is.
Die ontwikkeling van beter besproeiingsmetodes, grondbestuur en saad sal volgens die verslag glo help om produksierisiko's te verminder en die wisselvalligheid van die prys te versag.
Dit alles is natuurlik waar, maar dit lyk tog asof die VN se voedselorganisasie as gevolg van politieke korrektheid bereid is om die kern van die probleem te verswyg. Beter besproeiing, gesonder grond en al die GM-saad in die wêreld kan nie ‘n land se vermoë om voedsel te produseer red, as daar nie die wil is om dit te doen nie.
Dit loop soos ‘n goue draad deur die verslag dat lande wat afhanklik is van kos-invoere die hardste geslaan gaan word. Die logiese oplossing is dat die lande ter sprake alles moet insit om selfversorgend te raak ten opsigte van voedselvoorsiening.
Dit is die enigste versekering teen wisselende wêreldtoestande.
Dit wil tog lyk of daar lande verder noord in Afrika is wat al hierdie les geleer het en wat hulle bes probeer om boere wat weet hoe om in Afrika te boer, met ander woorde, Suid-Afrikaanse boere, nader te hark.
Hoe standhoudend dit is, is natuurlik maar ‘n ope vraag, want politieke onrus in Afrika kan gaie gou opvlam.
Die ironie is dat Suid-Afrika wat werklik oor ‘n boerderykorps beskik wat kan sorg dat die land selfvoorsienend ten opsigte van kos kan wees, ook die land is wat die minste vir sy boere omgee. Die boek, Treurgrond, wat onlangs vrygestel is, gee seker die mees grafiese bewys daarvan. Enige ander land waarvan sy boere so op ‘n streep gemartel en vermoor word, sal dit as ‘n nasionale ramp beskou. In Suid-Afrika word die moorde nie eers getel nie.
Daar is nou weer nuwe dreigemente oor ‘n nog onvriendeliker onteieningswet, die groenskrif op grondhervorming hang soos ‘n swaard oor elke boerdery en bedryfsorganisasies moet self die hawens en grense dophou om onwettige invoere te keer sodat die binnelandse bedryf beskerm kan word.
As die ANC-regering nie bereid is om sy ideologiese oogkklappe af te haal en te sien dat kommersiële boere sy grootste bate is nie, gaan baie mense in hierdie land nog baie swaarkry en honger ly.
Ondertussen kan ons as verbruikers ook ‘n paar dinge doen om ons landboubedryf te beskerm. Koop Suid-Afrikaans, om mee te begin en raak betrokke by die stryd wat kommersiële boere voer deur byvoorbeeld aan te sluit as vriend van TLU SA. As jy Saterdag ‘n lekker stukkie bief wil braai, help die boer om sy beeste op sy grond te hou!